Meer oor ons

 

Sowat negentig minute van Johannesburg af, net buite Bela-Bela, sprankel ATKV-Klein-Kariba in een van die Waterberge se mooiste klowe.

Hierdie pragoord bied ’n wye verskeidenheid akkommodasie met egte Bosveld-gasvryheid.

'n Verskeidenheid aktiwiteite, ontspanningsgeriewe en fasiliteite soos 'n restaurant, kitskosafdeling en 'n goed toegeruste winkel verseker dat gaste nie een ongerieflike oomblik beleef nie. Boonop is Klein-Kariba geleë op die Bosveld-toeristeroete en die ideale basis vir verskillende dagtoere.

Met moderne fasiliteite vir groepe van tot 700 bied ATKV-Klein-Kariba se rustigheid en vreedsame stilte die perfekte atmosfeer vir positiewe en verbeeldingryke besigheidsbeplanning en konferensies.

Of kom maak jou droomtroue waar met 'n bostroue in ons eie klipkapel by 'n betowerende waterval.

ATKV-Klein-Kariba – ware gasvryheid by die juweel van die Bosveld!

 

Toekennings

Akkommodasie*

Houthuise (20 eenhede)

Die 6-bedeenhede is losstaande selfsorgeenhede bestaande uit ’n hoofslaapkamer met ’n dubbelbed en ’n kamer met twee enkelbeddens. Die houthuise by die dam het ’n dubbelslaapbank (geskik vir persone tot 18 jaar) in die woonvertrek. Die houthuise in die kloof het twee enkelslaapbanke in die woonvertrek. Daar is ook ’n badkamer en ’n oopplankombuis met ’n stoof met ’n oond. Hierdie eenhede is ten volle toegerus vir ses persone. Die houthuise by die dam (no. 1 – 10) se badkamers het ’n bad en die houthuise in die kloof (no. 11 – 20) het storte. Beide eenheidstipes het lugverkoeling.
Houthuis foto's

Berghuise (33 eenhede)

(2-stergradering)

Die losstaande selfsorgeenhede met ses beddens het twee slaapkamers. Die hoofslaapkamer het ’n dubbelbed en die ander slaapkamer is toegerus met twee enkelbeddens of ’n dubbelbed. Die oopplankombuis/woonvertrek het twee enkelslaapbanke (geskik vir persone tot 18 jaar) en die badkamer het ’n bad of ’n stort. Hierdie eenhede beskik oor ’n tweeplaatstofie of ministoof-en-oondkombinasie en is ten volle toegerus vir ses persone. Die eenhede het lugverkoeling in die woonvertrek.
Berghuis foto's

Berghuise (17 eenhede)

(3-stergradering)

Die losstaande selfsorgeenhede met ses beddens het twee slaapkamers. Die hoofslaapkamer het ’n dubbelbed en die ander slaapkamer is toegerus met twee enkelbeddens. Die oopplankombuis/woonvertrek het ’n dubbelslaapbank of twee enkelslaapbanke (geskik vir persone tot 18 jaar) en die badkamer het ’n stort. Hierdie eenhede beskik oor ’n tweeplaatstofie of ministoof-en-oondkombinasie en is ten volle toegerus vir ses persone. Die eenhede het lugverkoeling in die woonvertrek en in die hoofslaapkamer.

A 5-bedwoonstelle (10 eenhede)

Die dupleks-5-bedeenhede se boonste verdieping beskik oor twee privaat slaapkamers en ’n badkamer met ’n stort. Die hoofslaapkamer het ’n dubbelbed en die ander kamer het twee enkelbeddens. Die oopplankombuis/woonvertrek met ’n enkelslaapbank (geskik vir persone tot 18 jaar) waarop ’n vyfde persoon kan slaap, is op die grondverdieping. Die eenhede het ’n tweeplaatstofie en is ten volle toegerus vir vyf persone. Hierdie woonstelle het nie lugverkoeling nie.
Woonstel foto's

A 4-bedwoonstelle (8 eenhede)

Die 4-bedwoonstelle is geleë op die grondverdieping van 'n duplekswoonstelgebou. Daar is ʼn dubbelbed in die slaapkamer en in die oopplankombuis/woonvertrek is twee enkelslaapbanke (geskik vir persone tot 18 jaar). Die eenheid beskik oor 'n tweeplaatstofie en is ten volle toegerus vir vier persone. Die badkamer het 'n stort. Een woonstel het 'n bad. Die grondverdiepingwoonstelle het 'n stoepie met 'n braaiplek. Die woonstel het nie lugverkoeling nie.

B 5-bedwoonstelle (18 eenhede)

Die dupleks-5-bedwoonstelle het 'n slaapkamer en badkamer met ʼn stort op die boonste verdieping, asook 'n oopplanslaapkamer waarin daar twee enkelbeddens is. Die oopplankombuis/woonvertrek is op die grondverdieping met onderskeidelik 'n dubbelslaapbank (geskik vir persone tot 18 jaar) of een enkelslaapbank (geskik vir persone tot 18 jaar). Die eenheid is ten volle toegerus vir vyf persone en beskik oor 'n tweeplaatstofie/oondkombinasie. Elke woonstel het 'n stoepie met braaiplek en nie lugverkoeling nie.

B 4-bedwoonstelle (12 eenhede)

Die 4-bedwoonstelle is op die grond- of eerste verdieping van die duplekswoonstelgebou. Die hoofslaapkamer met 'n dubbelbed het 'n en suite-badkamer met 'n stort. In die oopplankombuis/woonvertrek is 'n dubbelslaapbank (geskik vir persone tot 18 jaar) of twee enkelslaapbanke. Die eenheid beskik oor 'n tweeplaatstofie/oondkombinasie en is ten volle toegerus vir vier persone. Die woonstel het nie 'n stoepie nie en die braaigeriewe word gedeel. Die woonstel het nie lugverkoeling nie. Twee van die eersteverdiepingwoonstelle het 'n bad.

C 4-bedwoonstelle (10 eenhede)

Die dupleks-4-bedeenhede se boonste verdieping het twee privaat slaapkamers en ’n badkamer met ’n stort. Die hoofslaapkamer het 'n dubbelbed en die ander kamer het twee enkelbeddens. Twee van die 4-bedwoonstelle se hoofslaapkamers het ’n dubbelbed en die ander kamer het ’n stapelbed vir twee persone. Op die grondverdieping is ’n oopplankombuis/woonvertrek. Die eenhede beskik oor 'n tweeplaatstofie en is ten volle toegerus vir vier persone. Daar is lugverkoeling en elke eenheid het 'n stoepie met 'n braaiplek.

Tenthuise (20 eenhede)

Dié unieke eenhede skep 'n vrye kampgevoel, maar met die luuksheid van 'n ten volle toegeruste eenheid vir vier persone. Die safari-oopplantenthuise staan elkeen op 'n netjiese betonblad met een woon-/slaapvertrek met 'n dubbelbed en 'n stapelbed. Die badkamer het 'n stort en die aangeboude kombuisie is toegerus met 'n tweeplaatstofie/oondkombinasie. Die tenthuise het 'n verwarmer en televisie.
Tenthuise foto's

Vishoekhuise (10 eenhede)

Die losstaande eenhede bestaan uit een 4-bed-, een 6-bed- en agt 8-bedhuise. Die 8-bedselfsorghuise het drie slaapkamers. In die hoofslaapkamer is ’n dubbelbed met twee enkelbeddens in die tweede kamer. Die derde kamer het twee stapelbeddens vir vier persone. Drie van die 8-bedhuise se hoofslaapkamers is toegerus met ’n dubbelbed en die ander twee kamers met stapelbeddens vir onderskeidelik twee en vier persone. Die 6-bedhuise het twee slaapkamers. Die 4-bedhuise het ’n dubbelbed in die slaapkamer en twee enkelslaapbanke (geskik vir persone tot 18 jaar) in die oopplankombuis/woonvertrek. Die kombuis het ’n stoof met ’n oond en die huise is ten volle toegerus vir onderskeidelik agt, ses en vier persone. Die Vishoekhuise se badkamers het storte en almal het lugverkoeling.
Vishoek foto's

Kamers (11 eenhede)

Die kamers is langs die restaurant en ideaal vir oornaggaste wat hulle etes in die restaurant geniet. Die kamers het ’n dubbelbed en is toegerus met linne en handdoeke vir twee persone. Die en suite-badkamer het ’n stort. Die kamers beskik ook oor ’n klein yskassie, 'n ketel en koppies en glase. Die kamers het nie kook- of braaifasiliteite nie. Een van die kamers het ’n hoekbad in die badkamer.
Kamers (2 persone) foto's

Kampeerterrein (73 staanplekke)

Dié geplaveide 3-sterkampeerterrein beskik oor twee groot ablusieblokke met opwasgeriewe. Die staanplekke het elk `n eie braaifasiliteit en is binne stapafstand van al die ontspanningsfasiliteite by die oord.
Kampering foto's

Tekkiekamp/Jeugtente (9 eenhede)

Hierdie tenthuiskompleks bestaan uit onderskeidelik vier en vyf tente wat elk 12 persone kan huisves. Die kompleks het sy eie aparte ablusieblok. Beddegoed word verskaf vir die stapelbeddens. Daar is skottelgoedwasgeriewe en een braaidrom per tent. Besoekers moet hulle eie kombuisware, eetgerei en handdoeke saambring soos vir ’n kampvakansie.

Diamanté-suite (1 eenheid)

Dié losstaande eenheid bestaan uit ’n kamer met ’n dubbelbed en linne en handdoeke vir twee persone. Die en-suite badkamer het ’n bad en 'n stort. Die kombuis beskik oor ’n stoof met ’n oond en is ten volle toegerus vir twee persone. Die eenheid het ’n kuierarea met DStv, ’n braaiplek buite, ’n borrelbad en ’n buitelugstort. Die eenheid beskik oor lugverkoeling met onderdakparkering vir een voertuig. Besoekers kan vra vir volle spyseniering in die gerief van die eenheid.

* Alle slaapbanke is geskik vir jongmense tot 18 jaar oud.

Tariewe


Vir 'n meer gedetailleerde beskrywing van die verskillende soorte huisvesting en tariewe, klik op die Tariewe-skakel onder aan.

*As gevolg van die opgradering van verskeie verblyfeenhede die afgelope tyd mag dit wees dat die beskrywings en foto's van eenhede verskil van mekaar en ook verskil van die beskrywing op die tariefkaart. Ons is besig met die bywerking van die tariefkaart sowel as die foto's en beskrywings en poog om dit so spoedig moontlik op die webwerf te laai. Ons sê byvoorbaat dankie vir jou geduld. Indien daar enige onsekerheid is oor ‘n verblyfeenheid se beskrywing, fasiliteite en gepaardgaande foto’s, is jy welkom om die betrokke oord te skakel of ons sentrale besprekingskantoor by 011 919 9092.

Aktiwiteite en fasiliteite

Aktiwiteite by die oord

  • Twee warm swembaddens en verhitte binnenshuise swembad
  • Koue buiteswembad en plaspoel
  • Waterwurm
  • 9 putjie-kortystergholfbaan asook minigholfbaan
  • Vlugbal en rugby
  • Perderitte
  • Wildbesigtiging
  • Staproetes, fietsry
  • Trap- en roeibootjies (naweke en skoolvakansies)
  • Visvang
  • Potspel en elektroniese speletjies (naweke en skoolvakansies)
  • Vierwielaangedrewe motorfietsritte

Besienswaardighede in die omgewing

  • Leipoldt se kultuurroete
  • Makapansgat
  • Mahlakahlaka-ruïnes
  • Buyskop-historiese roete
  • Krokodilplaas
  • Wild- en boogjag
  • Valskerm- en tandemspring

Fasiliteite by die oord

'n Restaurant, wegneemete-kafee, geriefswinkel en OTM.

NEEM KENNIS

Vir sekere fasiliteite en vermaak mag daar van tyd tot tyd 'n addisionele heffing gevra word.

Dagbesoekers

Dagbesoekers (slegs ATKV-lede)

Die dagbesoekersbeleid van die ATKV-oorde is slegs van toepassing op ATKV-lede.

Hoewel ATKV-lede voorkeurbespreking by die oorde geniet, volg die ATKV lank reeds die beleid dat die oorde oop is vir Jan Alleman wat huisvesting betref terwyl net ATKV-lede die oorde as dagbesoekers kan besoek. Met die koms van die nuwe bedeling het die ATKV, op grond van besluite van verskeie kongresse, homself onomwonde geskaar by dié nuwe bedeling.

Vakansiehou is een van die aktiwiteite wat ten nouste verband hou met die ontspanningskomponent van kultuur. Juis daarom is dit die ATKV se oogmerk om die vakansie-ervaring van die Afrikaanse kultuurgemeenskap aangenaam te maak. Die vakansiepatroon is gerig op die gesin en fokus op aspekte soos gesinsvermaak, veiligheid, ‘n rustige vakansieomgewing en vakansiegangers wat mekaar se behoeftes respekteer en aanvul. Om hierdie aangename vakansie-ervaring te verseker, is daar sekere reëls by die oorde wat insluit:

  • 'n Beperkte aantal dagbesoekers.
  • Geen drank by die swembaddens.
  • 'n Beleid van geen dronkenskap.
  • Erkenning van die menswaardigheid van elkeen wat die oord as betalende gas besoek. 
  • Geen busse met besoekers wat nie vooraf reëlings getref het nie.

Hierdie beleid word toegepas om 'n atmosfeer te skep waarbinne besoekers heerlik kan ontspan. Daarby word aan elke besoeker die geleentheid gebied om die omgewing en die vermaak wat verskaf word, te kan ervaar. Daarom word ‘n persoon of persone wat die reëls oortree een of twee keer gewaarsku, waarna drasties opgetree word. Hierdie optrede kan afsetting van die oorde behels.

Om te verseker dat die dagbesoekers aan die ATKV se oorde nie die inwonende gaste steur nie, moet daar vooraf met die oorde gereël word om as dagbesoekers toegelaat te word. Dit is veral belangrik tydens skoolvakansies en langnaweke, spesifiek in April en Desember.  Daar word slegs ‘n beperkte getal motors per dag per oord toegelaat, omdat daar 'n groot aanvraag vir die ontspanningsgeriewe is. By ATKV-Klein-Kariba word net 10 voertuie met 'n maksimum van 8 persone per bespreking toegelaat, by ATKV-Goudini Spa 30 en by ATKV-Buffelspoort ook 30. By ATKV-Natalia word geen ekstra besoekers oor genoemde tydperke toegelaat nie as gevolg van beperkte parkeerruimte.

Alle besoekers word gelykwaardig behandel, maar slegs lede is geregtig op voorkeurbesprekings. ‘n Hooflid moet teenwoordig wees wanneer so ‘n bespreking gedoen en uitgevoer word. Besprekings geskied konsekwent en enige persoon wat nie die menswaardigheid van ander besoekers respekteer nie en beswaar teen hulle teenwoordigheid het, se geld sal teruggegee word met die versoek dat hy of sy die oord verlaat.

Dagbesoekers kan die oorde daagliks van 08:00 tot 17:00 besoek. Verskerpte maatreëls is ingestel om te verseker dat dagbesoekers hierby hou tensy ander reëlings met die betrokke oord se bestuur getref is.

Konferensies

Ons heet jou hartlik welkom

Suid-Afrika met sy natuurskoon bied 'n weelde van besienswaardighede wat verdien om erken en geniet te word. Die ATKV het die ideale oplossing: sewe ongeëwenaarde oorde oor die hele land geleë by 'n magdom kultuurskatte, erfenisterreine en ander opwindende aanloklikhede, en beskikbaar teen bekostigbare tariewe. Hierdie uitsoekoorde is veilig, behoorlik beskerm en hulle pragtige liggings is inspirerend om van jou konferensie 'n professionele sukses te maak.
 

Egte gasvryheid in die hart van die Bosveld

ATKV-Klein-Kariba is geleë in die Waterberge se mooiste klowe, net buite Bela-Bela op die Bosveld-toeristeroete. Hierdie unieke Bosveld-paradys is net meer as ’n uur se ry van Pretoria af, sodat dit die ideale wegbreek bied van die gewoel en lawaai van die stadslewe. ATKV-Klein-Kariba het vier ruim, goed toegeruste konferensielokale wat tot 700 konferensiegangers kan huisves.

Vir meer informasie, klik hier

Troues

Kom hou bruilof-inni-bos

’n Onvergeetlike Bosveldtroue ….

Dink aan een van die mooiste klowe in die Waterberge, omring deur groen bome, waterstrome en Bosveld-voëls. Julle is op pad na ‘n pragtige klipkapel vir jul mooiste dag. Ná die seremonie bederf ons restaurant die gaste met die keurigste spyseniering in een van ons pragtige onthaalsale.

En deur alles lewer ons puik diens met gehaltekos terwyl julle met gemoedsrus terug sit en ontspan in die wete dat ons alles doen om jul troudagdroom te bewaarheid.

Wat julle kry …

Puik pakkette!

Vir meer inligting, klik hier

Galery

Tariewe

Die jaarlikse prysverhoging vind plaas op 1 Maart. Besprekings en navrae oor beskikbaarheid van akkommodasie word direk by die oord gedoen. Vir meer inligting kontak ons sentrale besprekingskantoor by +27 11 919 9092 of die oord by +27 14 736 9800.

Tariewe 2018–2019

Lidtariewe

Standaard tariewe

Tariewe 2017–2018

Lidtariewe

Standaard tariewe

Kaart

GPS-koördinate


24º50ˊ59″ S / 28º20ˊ20″ E

HB Oorde Uitleg
Klein-Kariba Oorde Uitleg
Hartenbos Roetekaart
Klein-Kariba Reotekaart
 
 

Kontak

Vir algemene navrae en besprekings:
Posbus 150, Warmbad, 0480
Tel: +27 14 736 9800
Faks: +27 14 736 3457
Sentrale besprekingskantoor:
Tel.: +27 11 919 9092
Faks: +27 11 919 0231
E-posadres: kariba@atkv.org.za
Webwerf: www.klein-kariba.co.za
 
Konferensiekoördineerder:
Irma Day
Tel.: +27 14 736 9839
Faks: +27 14 736 4935
E-posadres: irmad@atkv.org.za
Konferensies:
Amorie Seegers
Tel.: +27 14 736 9840
Faks: +27 14 736 4935
E-posadres: amories@atkv.org.za
 

Kantoorure

Gewone ure
Ma–Do: 08:00 – 17:00
Vry: 08:00 – 21:00
Sa: 08:00 – 13:00
So: 08:00 – 15:00
Vakansieure
Ma–Do: 08:00 – 17:00
Vry: 08:00 – 18:00
Sa: 08:00 – 13:00
So: 08:00 – 15:00
 

Belangrike inligting

Indien u besoekers ontvang, moet dit vooraf gedurende kantoorure by die ontvangs gereël word. As gevolg van spasie en beperkte geriewe versoek ons dat u die gaste sal beperk tot 8 persone per eenheid of staanplek.

  • *
  • *