Buffelspoort

Minder as ’n uur van beide Pretoria en Johannesburg, net ’n klipgooi van die wêreldbekende Sun City, lê ATKV-Buffelspoort.

Met verskillende soorte selfsorgakkommodasie, ontspanningsgeriewe en aktiwiteite, ’n restaurant, kitskosfasiliteite en goed toegeruste winkel is ATKV-Buffelspoort die ideale basis vanwaar jy die talle toeriste-aantreklikhede in die omgewing kan verken.

Ons kampeergeriewe is veral gewild. Benewens ons 4-bedtenthuise het ons ’n magdom kampeerstaanplekke onder skaduryke bome of gepavleide staanplekke met skadunette, kragpunte en 'n braai-area. Daar is uitstekende opwas- en ablusiefasiliteite.

Perfek vir aksie en avontuur, of net luilekker rus en vrede – die volmaakte gesinsvakansie! Boonop bied die omgewing se rustigheid die regte atmosfeer vir positiewe en verbeeldingryke besigheidsbeplanning.

ATKV-Buffelspoort – ons oase in die Magaliesberge.

 

Toekennings

ATKV-Buffelspoort is tydens vanjaar se Lilizela Toekenningsgeleentheid in Sun City as die wenners in die Noordwes Provinsie aangewys in die Afdeling: Kampering en Selfsorg eenhede - Eksklusief.

Drakensville

  

Verruil die stadstoneel vir skouspelagtige natuurtonele by die Drakensberge!

Net ’n rapsie meer as drie ure se ry van Johannesburg en Bloemfontein en sowat twee en ’n halfuur van Durban af, lê ATKV-Drakensville naby die voetheuwels van die Drakensberg-amfiteater, ’n Wêrelderfenisgebied.

ATKV-Drakensville, ’n mekka van asemrowende uitsigte, word omring deur historiese bakens en bied toegang tot talle toeriste-aantreklikhede in die omgewing.

Die oord het verskeie soorte akkommodasie, avontuuraktiwiteite, ontspanningsgeriewe, ’n restaurant, kitskos-, koffie- en geskenkwinkel.

Drakensville is perfek vir jou sprokiestroue, 'n suksesvolle konferensie of ‘n spiekeries spanbouprogram!

ATKV-Drakensville is 'n semifinalis in die AA Travel Guide/American Express-akkommodasietoekennings in die kategorie: Groot selfsorgoorde in Suid-Afrika.

 

Toekennings

 

Eiland Spa

  

Ontspan en geniet ware gasvryheid by ons toevlugsoord in Limpopo

Op die suidelike oewer van die Letabarivier slegs 68 km oos van Tzaneen in die Limpopoprovinsie, lê ATKV-Eiland Spa in die hartjie van die Hans Merensky-natuurreservaat.

Eiland Spa spog heeljaar met warm, sonnige weer en saam met die uiteenlopende natuurskoon is hierdie oord een van die gewildstes in Suid-Afrika. Met ’n verskeidenheid selfsorgakkommodasie, ontspanningsgeriewe en -aktiwiteite, restaurant, asook ’n helende hidrospa is ATKV-Eiland Spa net die plek vir die hele gesin om te kom ontspan.

Die rustige kalmte en vreedsame stilte van die omgewing skep die ideale atmosfeer vir positiewe en verbeeldingryke besigheidsbeplanning en spanbou.

ATKV-Eiland Spa is die wenner van die AA Travel Guide/American Express-akkommodasietoekennings vir die kategorie: Groot selfsorgoorde in Suid-Afrika.

 

Toekennings

 

Hartenbos

 

ATKV-Hartenbos lê op die wêreldbekende Tuinroete tussen Kaapstad en Port Elizabeth, ongeveer 8 km van Mosselbaai en 40 km van George-lughawe.

Sakpas-gesinsvakansies by die see is moontlik met ATKV-Hartenbos se verskillende soorte akkommodasie waar jy per eenheid betaal en nie per persoon nie. Voeg hierby ’n magdom aktiwiteite en ontspanningsgeriewe, ’n restaurant, kitskosafdeling en geriefswinkel en jy het alles wat jou hart begeer. Hartenbos is ook die ideale basis vanwaar mens jou vakansie verder kan inkleur met besoeke aan talle toeriste-aantreklikhede in die omgewing.

Met konferensiefasiliteite wat groepe van tot 1 000 persone kan huisves, is ATKV-Hartenbos die perfekte keuse vir ’n inspirerende konferensie.

ATKV-Hartenbos is 'n semifinalis van die AA Travel Guide/American Express-akkommodasietoekennings in die kategorie: Groot selfsorgoorde in Suid-Afrika.

 

Toekennings

 

Goudini Spa

 

Geniet borrelende pret in die Wes-Kaap!

Skaars ’n uur van Kaapstad in die hartjie van die Bolandse berge lê ATKV-Goudini Spa vakansie oord met sy helende mineraalbaddens en te veel pretdinge om in een vakansie in te pas.

ATKV-Goudini Spa se verskeidenheid selfsorgakkommodasie, vermaak en ontspanningsgeriewe sal selfs die kieskeurigste vakansieganger gelukkig maak. Aktiwiteite op die oord sluit in verskillende natuurlik verhitte swembaddens,warm water glyplank ,tennis- en vlugbalbane asook n speletjieskamer en natuurskoon stapplek.

Ons oord beskik oor uitstaande konferensiefasiliteite wat tot 800 konferensiegangers kan huisves met nege verskillende konferensie lokale om van te kies. Ook die ideale keuse vir ’n perfekte huweliksonthaal met pragtige uitsigte oor die Breedevallei.

ATKV-Goudini Spa oord beskik oor ’n gelisensieerde restaurant, geriefswinkel en skoonheidsalon op die oord. Asook ‘n wassery, OTM en Halaal gesertifiseerde wegneemetes.

Perfek vir gesinsvakansies.

 

Toekennings

Klein-Kariba

 

Sowat negentig minute van Johannesburg af, net buite Bela-Bela, sprankel ATKV-Klein-Kariba in een van die Waterberge se mooiste klowe.

Hierdie pragoord bied ’n wye verskeidenheid akkommodasie met egte Bosveld-gasvryheid.

'n Verskeidenheid aktiwiteite, ontspanningsgeriewe en fasiliteite soos 'n restaurant, kitskosafdeling en 'n goed toegeruste winkel verseker dat gaste nie een ongerieflike oomblik beleef nie. Boonop is Klein-Kariba geleë op die Bosveld-toeristeroete en die ideale basis vir verskillende dagtoere.

Met moderne fasiliteite vir groepe van tot 700 bied ATKV-Klein-Kariba se rustigheid en vreedsame stilte die perfekte atmosfeer vir positiewe en verbeeldingryke besigheidsbeplanning en konferensies.

Of kom maak jou droomtroue waar met 'n bostroue in ons eie klipkapel by 'n betowerende waterval.

ATKV-Klein-Kariba – ware gasvryheid by die juweel van die Bosveld!

 

Toekennings

Natalia

 

Net 40 km suid van Durban wag ATKV-Natalia Strandoord dat jy spore kom trap in sy silwerwit seesand en lyf kom natmaak in sy blinkblou water … ’n tropiese paradys waar die weer heeljaar soel en salig is.

Akkommodasie by ATKV-Natalia bestaan uit ’n keuse van ruim, gesellige selfsorgwoonstelle in verskeie groottes en ’n boomryke woonwapark met spogfasiliteite. Benewens al die ontspanningsfasiliteite by die oord is Natalia net ’n klipgooi ver van allerhande opwindende en interessante toeriste-aantreklikhede in die omgewing.

Met moderne fasiliteite vir 400 mense kan ATKV-Natalia konferensiegroepe en selfs skoolgroepe huisves.

ATKV-Natalia was 'n semifinalis van die AA Travel Guide/American Express-akkommodasietoekennings in die kategorie: Woonwa- en kampeerplekke.