Skip to the content

Klein-Kariba ‘n terugblik van nolstalgie

Geskryf deur Therien Roodt

Vanuit-alle-oorde-Th...

 

Oë begin skitter, opgewondenheid word aangewakker en slapies word getel. Hierdie is die herinneringe wat by my opgekom het wanneer ek as kind aan ‘n vakansiewegbreek gedink het.

Klein-Kariba, is een besonderse gesinsvakansie wat my altyd sal bybly. Ons was vroeg-vroeg uit die vere, tassies gepak en gereed vir die bosveldwegbreek. Wanneer ons op reis gaan, word noukeurige beplanning gedoen. Die sente word omgedraai en die motor word nagesien.

Hoewel ons kinders se opgewondenheid aan stoutheid gegrens het, en ons om een of ander rede altyd geveg het oor wie in die middel van die motor gaan sit, het die yskoue hoender, frikadelle en vleispastytjies die motorit beslis die moeite werd gemaak.

Vakansie was vir ons soos ‘n toorwoord want voor ons, ons oë kon uitvee, het ons by ons bestemming gearriveer. Ons het skaars by ons woonstel stilgehou, toe is ons kinders haastig oppad swembad toe.

ATKV_Klein-Kariba1

Die atmosfeer was alte vrolik. Kinders het in die water baljaar en op die waterglybaan gegly, terwyl jongmense minigholf gespeel het, en in die sonnetjie gelê en bak het. Ouer mense het op die grasperk op komberse gesit, en toegekyk hoe hulle geliefdes die koue swembadwater aandurf.

Ons gesin het alles gedoen wat ons nog nooit vantevore gedoen het nie. Van staproetes en fietsry tot en met wildbesigtiging. Waarvan ek veral gehou het, was om die Trap-en roeibooitjies te ry.

As gesin het ons kwaliteit tyd saam spandeer en alles saam gedoen. Dit is verseker herinneringe wat niemand van ons kan wegneem nie. Vandag 10-jaar later bevind ek myself weer by die lieflike vakansieoord, maar die keer nie om vakansie te hou nie, maar om aan ‘n sosiale media strategie te werkskaf.

Wie sou nou ooit kon raai dat my gunsteling vakansiebestemming as deel van my werksloopbaan sou uitmaak, en so ‘n groot rol in my lewe sou speel. Alles is nog presies dieselfde, net soos wat ek dit as kind onthou.

ATKV_Klein-Kariba2

Met die eerste oog opslag, word mens dadelik met die rustigheid en vreedsame stilte van die natuur omring. Hordes families sit nes altyd met koelbokse en piekniek mandjies langs die swembad terwyl skaterlag oomblikke met mekaar gedeel word. 

Die bosveldparadys bied iets vir almal. Van ‘n verskeidenheid aktiwiteite- en fasiliteite met ‘n egte bosveld-gasvryheid tot en met ‘n magdom pret aktiwiteite vir die hele gesin.

Terwyl ek die juweel van die bosveld bewonder, heers daar ‘n gemoedelike atmosfeer rondom my, wat my  terug laat verlang na die tye wat ons  soos vinke om die kampvuur gekwetter het, en die vleisie op die kole gebraai en volkome geniet het.

Ek voel hoe die koue briesie teen my arms en bene waai. Die son skyn helder op my gesig en daar is nie ‘n wolkie in sig nie.  Ek fokus hard om hierdie sosiale media strategie baas te raak, wanneer ek meteens vir myself sê, “Daar is net iets anders aan hierdie plek wat ek nie in woorde kan omsit nie.” Hier is ‘n rustigheid hier binne my wat ek nie vir iemand kan beskryf nie.

Alhoewel my vakansie-herinneringe as kind nou tot ‘n einde gekom het, laat die opgewondenheid van my nuwe loopbaan my met heimweë.