Skip to the content

Vergemaklik jou volgende kampeervakansie!

Geskryf deur Therien Roodt

Die lente is hier wat beteken dat dit weer tyd is om daardie baaikostuum uit die kas  te gaan haal, jou woonwa of sleepwa te haak en die stadstoneel vir ’n natuurtoneel te verruil.

Maar kom ons wees nou eerlik, dit sit nie in elkeen se broek om ’n kampkoning te wees nie. Moet egter nie toelaat dat jou swaar verdiende wegbreek in ’n nagmerrie ontaard nie.

Die volgende wenke uit die minireeks, Tips & Trix, sal jou gou-gou help om die nodige kennis onder die knie te kry en jou volgende  kampeervakansie te vergemaklik.

TipsenTrix(3)

Eerste dinge eerste: Maak seker dat die nodige voorbereidings getref is voordat jy weggaan, want dit is net so lekker soos die vakansie self. Maak ’n lysie van alles wat jy gaan nodig hê en wat ingepak moet word. Dit sluit in die kos, kampgoed en drinkgoed. Merk dit af soos wat dit ingepak word en verseker só dat jy niks vergeet nie.

Dis belangrik dat die woonwa of sleepwa ordentlik hersien word voor jy vertrek. Pak die swaarste goed eerste sodat niks rondskuif nie en die sleepwa se neus nie te swaar gelaai is nie. Balans is belangrik.

As die sleepwa ordentlik gepak is, kan die langpad aangedurf word. Maar net as jy voor die tyd gesorg het dat jou voertuigbande gepomp is met die korrekte druk. As jy die regte prosedure gevolg het voor jou vertrek kan jou vakansie nou veilig begin sonder enige bekommernis dat iets verkeerd kan gaan.

TipsenTrix(2)

Nadat jy jou bestemming bereik het, is dit tyd om jou kampplek gerieflik in te rig. Teken ’n kaart van jou kampterrein om die beste uitleg te kies. Begin deur die naaste kragpunt te vind en jou tent op te slaan, want wat is ’n lekker kampavontuur sonder ’n tent?

Maak seker dat jy al die tentpenne en -pale het en slaan jou tent op. Gebruik gekleurde kleefband om jou tentpale te merk om hulle sodoende vinniger te vind en in die regte gaatjies te druk. Maak ook altyd seker dat die tentpenne en -pale skoon en droog is sodat dit nie roes nie.

Wanneer jy die kuns van tent opslaan bemeester het, en al die ankerpenne op hulle plek is, moet alle toue styf gespan word sodat die dak nie bakke maak as dit reën nie. Gebruik skuimvloerteëls vir ’n sagter vloer wat ook as ’n mat kan dien in jou tent. Dit bied nie net ekstra gemak nie, maar maak ook die opslaan en skoonmaak voor die vertrek soveel makliker en vinniger. Probeer om nie jou tasse en klere in die hoeke van die tent te bêre nie omdat dit die vinnigste nat word daar.

TipsenTrix(4)

Buiten die sleepwa en tent, is daar nog ’n paar dinge waarsonder jy nie kan kamp nie. ’n Skoppie en besempie kom handig te pas wanneer jy die kinders se modder vinnig van die tentvloer moet afvee en ook na die tyd wanneer jy die tent wil oppak. ’n Skoenorganiseerder kan ook gebruik word om jou buitelugspens netjies te hou – en om kos en gebruiksartikels van die grond af te hou.

’n Kampeervakansie is ook nie ’n kampeervakansie sonder kos nie! ’n Groot deel van die kamplewe gaan oor smaaklike etes. Kampkos moet vinnig, maklik en eenvoudig wees, maar hoef nie noodwendig net uit blikkies te kom nie. Jy kan koningsmaaltye maak met net die basiese bestanddele.

Heerlike hawermouthappies is ideaal vir ’n vinnige peuseldingetjie om daardie honger mae te vul.

Gebruik die volgende bestanddele:

  • 1 koppie hawermout
  • ⅓ koppie heuning
  • ½ koppie grondboontjiebotter
  • ½ koppie sjokoladebrokkies
  • ½ koppie gemaalde vlas-sade
  • ⅔ koppie geroosterde klappervlokkies
  • 1 teelepel vanielje-ekstrak
  • 1 eetlepel chia-sade

Meng alles goed saam, vorm balletjies van die mengsel en vries tot hard.

 

Daar is ook natuurlik niks wat “kamp” sê soos ’n knetterende vuurtjie en ’n vleisie op die kole nie. Maar eers moet daar vuur gemaak word! Elke vrou moet leer om ’n vuur te kan maak. Daar is verskillende soorte vure wat aanmekaar geslaan kan word. Die Tepee-vuur wat vernoem is na ’n Indiaanse tent, kry baie lug en sorg vir baie hitte wat dit gepas maak vir ’n gesellige kuier saam met vriende. Hierdie vuur brand egter baie vinnig uit. Die Varkhokkie-vuur is die beste tipe vuur vir ’n braai want die hitte is geleidelik en die kole brand nie so vinnig uit nie. Die Swedish Torch-vuur gebruik ’n bietjie brandgoed wat sorg vir lae hitte en is perfek vir bak. 

Dis egter problematies om ’n vleisie mooi gaar te kry as jy jou braaier en Blitz by die huis vergeet het. Maar dit hoef nie die einde van die wêreld te wees nie. Al wat jy nodig het is ’n leë Milo-blik, houtskool, ’n stuk foelie saam met jou roostertjie en  ̶  glo dit of nie  ̶  Doritos!

TipsenTrix

Begin deur repe in die Milo-blik te sny met ’n skerp voorwerp waarna jy ’n groot stuk foelie vat en om dit vou. Steek daarna die Doritos-skyfie aan die brand en plaas dit in die blik. Sodra die skyfie vlamvat, kan jy die houtskool daarby voeg en siedaar! Jou tjoppies kan nou heerlik op die rooster oor die vlamme sis.

Tydens ’n kampeervakansie is daar niks so frustrerend soos nat vuurhoutjies nie. Voorkom nat vuurhoutjies deur jou vuurhoutjies waterdig te maak. Doop net die voorpunte in naellak of kerswas. Nog ’n manier is om die vuurhoutjies in klein Tupperware-bakkies te sit om dit droog te hou. Plak ’n strokie skuurpapier aan die binnekant van die deksel vas en jou vuurhoutjies is altyd gereed om aangesteek te word.

Naas nat vuurhoutjies is nat toiletpapier almal se grootste vyand wanneer daar gekamp word en daarom moet voorsorgmaatreëls getref word. Kry vir jou ’n leë plastiekhouer en sny ’n vertikale gleuf aan die kant van die houer. Plaas die rol in die houer en voer die toiletpapier deur die gleuf. Vat so nat boude, dit is so maklik soos dit!

Nou toe, waarvoor wag jy? Kamp is nie ’n verskoning om te laat slap lê nie! As jy egter al hierdie dinge gedoen het en al dié slim wenke gevolg het, kan jy terugsit en ’n sorglose vakansie geniet.