Skip to the content
tip 1

Reismismoedigheid tydens die inperking

Die COVID-19-pandemie het die hele wêreld tot stilstand gebring, en almal is nou in hul huise vasgevang. Geen vakansie, geen reis … of hoe?

Hier is ʼn paar wenke wat kan help met jou mismoedigheid oor reis tydens die inperking:

1. Kyk weer na al jou ou reisfoto's en -video's. Ons kry nooit die tyd om hierna te kyk nie – nou is ʼn goeie tyd om alles weer te herleef en dit selfs te sorteer, sodat jy dit ná die inperking in ʼn boek kan laat druk.

tip 2
2

2. Gee jou familie die vakansie wat hulle verdien. Staan een oggend vroeg op en omskep jou huis/tuin in ʼn vakansieoord. Spandeer die dag buite, speel speletjies op die gras, braai, swem, hê pret. Jy kan selfs ʼn bord maak met pyltjies wat in die regte rigting wys met al jou gunsteling-vakansiebestemmings op.

3. Tuisreisvideo's – Herleef van jou reise saam met jou familie en neem ʼn snaakse tuisvideo. Ma werk by paspoortkontrole, Pa kan op die tredmeule staan en ʼn koerant lees en maak of hy op ʼn bewegende loopweg is, die kinders kan op die vliegtuig speel terwyl Ma die lugwaardin is wat vra vir bief of hoender. ʼn Mens kan baie pret só hê. Kyk na die videoskakel hier onder om te sien wat ons bedoel. 

4. Laat elke familielid ʼn bietjie navorsing doen en foto's ens. opspoor van waarheen hulle sal wil gaan vir hul volgende vakansie, en laat almal dan saam sit en ʼn beurt kry om hul volgende vakansie aan die res van die gesin voor te lê.

tip 6
7
7

5. Wag vir die gras in die agtertuin om ʼn bietjie te groei en gebruik die grassnyer om kort minigholfbane uit te sny. Verwyder ʼn klein stukkie gras – so wyd soos ʼn 2l-Coke-bottel – met ʼn klein tuinvurkie en bêre die gras in die koelte, want jy wil dit later weer terug sit. Sny die onderkant van ʼn 2l-Coke-bottel af en gebruik dit as die gatjie. Sit dit in die gat wat jy in jou pa se perfekte grasperk gemaak het en siedaar – ʼn minigholfbaan. Gebruik Pa se setter en gholfbal en vind uit wie die familie se minigholfkampioen is!

6. Doen soveel moontlik aktiwiteite saam met jou familie – oefen saam, doen kunsvlyt saam, speel speletjie, teken met kryt op die plaveisel, gesigsverf, kook en bak saam, hou ʼn fliekaand met springmielies, karaoke ... letterlik enigiets en alles. As pa, moes ek ʼn grimeringsessie, ʼn vol pedi (deur my driejarige dogtertjie) en gesigsverf in oorvloed deurmaak. Doen die dinge waarvoor jy nooit die tyd of krag het nie.

7. Neem foto's van al jou reisversamelaarsitems. Ek versamel modelvliegtuie.

8
9
9

8. Leer ʼn nuwe vaardigheid aan. ʼn Goeie een is om fotografie aanlyn te leer. Op hierdie manier kan jy jou reisfoto's verbeter. Jy wou dit nog altyd doen en het nooit tyd gehad nie! As jy nie dink dat die tyd nou reg is nie, is ek jammer om te sê, maar daar gaan nooit weer ʼn beter tyd hierna wees nie.

9. Neem baie foto's en video's en stoor dit op ʼn spesiale USB. Noem dit Tuisblyfamilievakansie tydens die COVID-19-inperking. Hierdie is ʼn tyd in geskiedenis wat jy en die res van die wêreld nooit sal vergeet nie. Die tyd toe ons almal se lewens verander het. Hou hierdie kosbare herinneringe en hou rekord van hierdie familietyd, sodat jy oor ʼn paar jaar daarna kan terugkyk. Jou kinders kan hul kinders wys hoe hulle die "Wêreldoorlog" van ons tyd oorleef het.

10

10. ʼn Kosmaakreis – Laat elke gesinslid hul gunstelingland kies en kry ʼn resep vir ʼn dis wat eg aan daardie land is. Berei die kos saam voor as ʼn gesin, kyk wie die kos die mooiste kan voorsit en neem foto's van almal se disse. Die wenner kan die nagereg opskep. Dis ʼn wonderlike manier om nuwe geure te verken en om familiepret in die kombuis te hê.

Ek hoop dat hierdie wenke jou sal help om deur hierdie (laaste?) dae van inperking te kom!

Hier is twee video's wat ons gemaak het om te help met die reismismoedigheid:

1. https://youtu.be/BqSXigVVM9o    

2. https://youtu.be/1AP9kKoWhkk

Bly veilig en bly tuis.

Eugene Nagel, die Reisghoeroe. 😊