Skip to the content
Studentejol

StudenteJOL

Nou goed. Jy wag nou al die heel jaar vir StudenteJOL. Die eksamen is verby, die punte lyk darem nie TE vrot nie, jou pa het ’n paar rand in jou rekening inbetaal – en jy en jou bra’s en bra-inne is reg om te rol. Maar hier is ’n paar wenke want hoewel ek seker is dat Klein-Kariba in die meeste van jou behoeftes sal voorsien, is voorsorg altyd beter as nasorg. Oftewel rather safe than sorry . En hoewel dit nie heeltemal so wild soos Oppikoppi is nie, geld daar tog ’n paar universele reëls as dit by musiekvertonings en kamp kom.

 

As jy gaan tent opslaan en nie in ’n woonstel, houthuis of tenthuis bly nie:

  • Arriveer vroeg. Tent opslaan in die daglig is net soveel beter as in die donker wanneer jy nie kan sien as jy na tentpenne moet soek nie. Daar is ook altyd laatkommers en jy wil nie in ’n lang tou gaan staan by die hek nie. Kom vroeg, slaan rustig tent op, en dan klap jy die shows. Hierdie wenk geld ook vir die dag van vertrek. Ry bietjie vóór uitkloktyd, dan mis jy die massa voertuie.
  • Onthou waar jou kampplek is. Skryf dit op jou arm as jy moet. Jy wil nie vroegoggend rondval en soek na jou blyplek nie.
  • Hou ’n sak byderhand vir jou vullis. Moenie die omgewing onaangenaam maak vir jou bure nie. Morsjorse is so 1984.
  • Hang ’n vlag of ’n ding voor jou tent. Jy sal hom makliker sien as jy hom soek ná ’n lang kuiersessie.
  • Bring ’n ordentlike slaapsak, komberse en kussings. Die voggies hou jou dalk warm in die dag, maar die nag kan koud word. En jy wil nie wakker word met ’n stywe nek wat die res van jou naweek gaan bederf nie.
  • Bring jou kampstoel. Om op die gras te sit is net lekker vir so lank. En jy soek mos ’n plek om jou glas in te sit.
  • Onthou jou flitslig want jy trap dalk net op ’n rinkhals op pad toilet toe. 

 

Persoonlike higiëne en ander belangrike items:

  • Wet Wipes: Jy mors iets in die kar. Jou hande is taai van die braaitjoppie. Die ou langs jou by die Spoegwolf-vertoning gooi op op jou voete. Daar is duisende gebruike vir daai klam doekie.
  • Handreiniger: Wel, jy het sekerlik die laaste paar maande genoeg gehoor  oor die nut en noodsaaklikheid hiervan.
  • Toiletpapier: Jy eet en drink deurmekaar en jou maag is omgekrap. Jy wil nie op die pot gaan sit en agterkom daar is nie witgoud langs die toilet nie.
  • Gebottelde water: Want jy gaan dors word van al die saamsing. En dehidreer van al die bier. Jou liggaam het water nodig.
  • Sonbrandroom, ’n hoed en ’n sonbril: Om met sonsteek in die tent te sit terwyl jou tjommies jol, is nie lekker nie. En al lyk jy hoe goed in ’n bikini, die rooikreef-look was nog nooit sexy nie.
  • ’n Motorselfoonlaaier.
  • Hoofpynpille en Rehidrate: Want jy weet hoekom.
  • Muskietweerder: Peaceful Sleep of so iets. Weer eens, al lyk jy hoe sexy in ’n bikini of Speedo, die rooi knoppies oor jou lyf gaan jou voorkoms bederf.

Vir die braai (Vir daai kere wat jy nie smul aan Koswerf se fantastiese wegneemetes nie):

  • Vuuraanstekers
  • Houtskool
  • ’n Skottelbraai as jy jou bure wil jaloers maak met spek en eiers die volgende oggend.
  • ’n Koelboks want daar’s niks soos ’n koue bier nie. EN jy kan jou vleis en melk ook koud hou daarin.
  • LET WEL: In plaas van om al hierdie goed te moet inpak, gaan eet eerder by Koswerf Restaurant.

Nog ’n paar riglyne en wenke:

  • Leen jou pa se staalkampglas – ek waarborg jou jou gewone glas gaan breek.
  • Pak plakkies in. Klein-Kariba se ablusieblokke is skoon, maar die mannetjie wat voor jou stort, is dalk nie.
  • Los duursame items by die huis. Al wil jy meisies beïndruk met jou nuwe MacBook, los hom liewer tuis. Die wêreld is vol skelms – en hulle dra nie almal balaklawas nie.

BAIE belangrik:

  • Geniet jouself, maar neem ander mense in ag. Niemand wil vieruur in die oggend jou Justin Bieber-mixtape hoor nie.
  • Beplan ’n bietjie want daar is baie vertonings. Moenie ’n halwe bottel Tequila afsluk en almal mis nie. Spyt kom altyd te laat.

ATKV-Oorde

Surreylaan 348
Randburg
Gauteng
Suid-Afrika

E-posadres: 
oordedigitaal@atkv.org.za
Besprekings: 
+27(011) 919 9092