Skip to the content
Bibi Slippers

Bibi Slippers Resepte

Selfs Suid-Afrikaanse bekendes hou van kamp. Digters, skrywers, akteurs … Want wie hou nou nié van sonskyn, braai en ontspan nie? Ons het ’n paar bekendes gevra om hulle voorste kampresepte met ons te deel – en dis so uiteenlopend soos die Karoo en Natal. Sien, almal eet nie net meer tjoppies en pap nie. Die dae van vegankampeerders en ander gesondheidsbewuste vakansiegangers het aangebreek. Hoekom dan nou ’n nuwe vetrol saam met jou sonbruin lyf huis toe vat? Baie van die bestanddele van die resepte kan jy saamneem of sommer aanskaf by die winkels van die onderskeie ATKV-oorde.

Bibi Slippers, bekroonde digter en boekwurm, deel hierdie week haar resepte met ons. En as jy sommer ’n bietjie kultuur wil inkry saam met die vars buitelug, koop dan vooraf vir jou Bibi se digbundel, Fotostaatmasjien, wat beskikbaar is by alle groot boekwinkels.

Albei haar resepte bevat geen diereprodukte nie. 

Oatmeal

BIBI SE OORNAG SJOKOLADEHAWERMOUT

Ontbyt

Vir kampeerders wat nie vroeg wil opvlieg en soggens vuur maak nie, is daar hierdie ideale ontbyt wat jy vooraf kan voorberei om heerlik te kan laat slaap. Wanneer jy uit jou tent uit kruip is jou ontbyt gereed om te eet!

BESTANDDELE

’n mengbak

2 glasbottels met deksels

½ koppie hawermout

2 eetlepels chia-sade

1 eetlepel lynsaad

1 eetlepel kakaopoeier

1 teelepel vanielje-essens

¼ teelepel fyngemaalde kaneel

1 groot, ryp piesang

1 koppie amandelmelk 

OPSIONELE EKSTRAS OM MEE OP TE DIEN

grondboontjiebotter

gemengde neute

vars piesang

droëvrugte of bessies

METODE

Druk die piesang met ’n vurk pap in die mengbak. Meng al die droë bestanddele by die piesang. Gooi die amandelmelk by en meng goed. 

Skep die mengsel in die glasbottels, maak die bottels toe en laat staan oornag. 

Jy kan die volgende oggend enige van die voorgestelde ekstras oor die hawermout gooi of net so daaraan weglê.

Die resep is genoeg vir twee persone. 

(Oorspronklike resep deur Leozette Roode in The South African Vegan Cookbook)

Veggie burger

Bibi se braairesep

Broodlose Beyond Burgers (of ander groenteburgers) met feta en granaat

Net omdat jy kamp, beteken dit nie dat jy nie maar ’n bietjie kan uithang en steeds kos opdis wat vars en vrolik lyk nie. 

 

BESTANDDELE

4 vegetariese patties 

(Ek gebruik graag Beyond Burgers wat by Woolworths te koop is) 

1 pakkie suiwelvrye fetakaas 

(Ook by Woolworths te koop, of probeer die Violife-reeks by Checkers en Pick n Pay)

1 granaat

1 kop vars blaarslaai

vars groenui

vars koljander

1 komkommer

1 lemmetjie

METODE

Braai die vegetariese patties volgens die aanwysings. 

(Beyond Burgers kan vir 3 minute aan elke kant gebraai word)

Berei ’n bed blaarslaai op elke bord voor.

Plaas ’n gaar pattie op elke bed blaarslaai.

Sny die suiwelvrye feta in lang repies en lê dit bo-op die warm patties.

Gooi granaatpitte bo-oor die feta.

Kap die groenui en koljander fyn en strooi dit oor die feta en granaat.

Sny die komkommer op en druk die lemmetjiesap daaroor uit. Bedien dit as slaai saam met die broodlose burger. 

Die resep is genoeg vir vier persone.