Skip to the content
Schalk Cilliers

Nou het ons eers vakansie nodig!

Die Covid-19-pandemie het die toerismebedryf tot stilstand geruk en ook die ATKV se oorde voel die impak daarvan; tog word nuwe planne reeds beraam...

Buffelspoort se warm swembad, wat veral oor naweke en tydens vakansies gewemel het van besoekers, is dolleeg. Hartenbos se waterpark het maande laas aksie gesien en by Drakensville is daar geen besoekers wat die mooi uitsig kan bewonder nie. 

Net só is dit doodstil by Die Eiland, Klein-Kariba, Natalia en Goudini Spa. ’n Hardnekkige virus het almal se wegbreek- en vakansieplanne lelik in die wiele gery en die enigste manier waarop ons vir eers nog kan reis, is met ’n verbeeldingsvlug.

Tog rus die ATKV se oorde in die grendeltyd nie op hul louere nie en alles moontlik word gedoen om te verseker dat gaste een van die dae weer al die lekker van ’n oordwegbreek kan geniet. Taalgenoot het met Schalk Cilliers, die ATKV se besturende direkteur: oorde, gesels oor hoe hulle geraak word en wat die uitdagings gaan wees.

Wat is die situasie by die oorde?

Om ons personeel en gaste se gesondheid te help beveilig en omdat ons die inperking aangekondig op 15 Maart gesteun het, is die oorde gesluit. Dit het natuurlik ’n groot impak op ons inkomste gehad. 

’n ATKV-oord en ’n hotel of gastehuis is verskillende goed. Is die reëls geregverdig?

Ons werk saam met ons kollegas in die vakansiebedryf, asook toerismebedryf-organisasies, om die bedryf se belange by die nasionale bevelsraad te bevorder sodat ons saam ’n plan kan beraam dat vakansiebestemmings so vinnig moontlik kan oopmaak. Natuurlik met die regte gesondheidsprotokol in plek om personeel en gaste se gesondheid te help beveilig. 

Dit gesê, daar is groot verskille tussen die onderskeie akkommodasieverskaffers met betrekking tot die kapasiteit om sosiale afstand tussen gaste te help handhaaf. By ’n vakansie-oord is wooneenhede ver van mekaar en gaste sorg vir hul eie kos. Selfs in kampeerareas kan sosiale afstand beheer word deur elke tweede staanplek leeg te hou en die gebruik van ablusiegeriewe te bestuur.

Waarmee hou die oorde-personeel hulle besig?

Ons personeel bly gefokus op die instandhouding van die kritiese aspekte van ’n oord, die beskerming van alle geriewe en die beplanning en inwerkingstelling van aksies sodat ons reg is vir wanneer die regering aandui dat ons weer kan begin sake doen. 

Wat het julle ten opsigte van innovering gedoen in dié tyd?

Dit het ons die tyd gegee om van nuuts af te kyk na ons besigheid en hoe ons ’n beter produk en diens aan die Suid-Afrikaanse vakansiemark kan bied. Ons kyk na verskeie aspekte van die bedryf, maar kan nie te veel van die detail verklap nie. Wat ek wel kan sê, is dat ons opwindende planne in die vooruitsig stel!

Vertel ons bietjie meer van jul aanlyn platforms.

Daar is drie aanlyn platforms waarna besoekers gerus kan gaan kyk:

  • Ons bestaande aanlyn besprekingsplatform is steeds aktief en enigeen kan besprekings maak by ons oorde vir 2021. Boonop het jy die voordeel dat jy vir 2021 kan bespreek teen 2020 se tariewe!
  • Tweedens het ons nou ook ’n aanlyn geskenkbewysstelsel. Jy kan nou vir daardie spesiale persoon vir hul verjaardag, Vadersdag of enige ander spesiale geleentheid ’n ATKV-geskenkbewys koop wat hulle kan gebruik as volle of gedeeltelike betaling van hul volgende bespreking by ons.
  • Laastens het ons op 28 Mei ’n digitale vermaakportaal geskep op ons webwerwe DigiOord en DigiResort. Daar kan besoekers kyk, en deelneem, aan verskeie vermaakaanbiedinge deur ons bekwame en energieke vermaakspanne.

Wat kan besoekers ná die grendeltyd van oorde verwag?

Personeel en gaste se gesondheid gaan ons hoogste prioriteit wees. Ons sal voldoen aan alle gesondheidsprotokolle, soos ooreengekom met die regering en bedryfsinstellings. Ons wil terselfdertyd seker maak dat gesinne in gemak kan kom uitspan ná die druk wat op alle Suid-Afrikaners geplaas is as gevolg van die pandemie. 

Watter boodskap het jy vir ATKV-lede en voornemende vakansiegangers?

Ons is opgewonde om julle weer by ons oorde te verwelkom! Boonop het ons opwindende nuus oor aanbiedinge vir die res van 2020 en vir 2021 wat ons binnekort bekend sal maak en wat groot waarde sal toevoeg vir enigeen wat ons kom besoek. 

Hoe gaan die prentjie ná Covid-19 verander?

Elke Suid-Afrikaner moet aanvaar dat die meeste sosiale wisselwerking in die openbare omgewing dramaties anders gaan wees vir die afsienbare toekoms. Terwyl ons wil verseker dat elke gesin of paartjie wat by ons kom uitspan ’n unieke, ontspannende ervaring het, gaan ons moet voldoen aan gesondheidsprotokolle soos voorgeskryf deur die bedryf en die regering, en dit gaan vakansies in ’n mate anders laat voel. Ons maak werk daarvan om te verseker dat elke gas welkom voel by ons oorde, hulle gate uit geniet en met nuwe energie terugkeer huis toe.