Skip to the content
Things to do for culture vultures at Drakensville

Doendinge vir kultuurdiere by ATKV-Drakensville

Daar is twee soorte vakansiegangers: Die gesinne wat so gou as moontlik by hulle bestemming wil uitkom, en DAN eers begin vakansie hou. Dan is daar die gesinne wat by elke dorp stop om eers na die besienswaardighede te gaan kyk. Húlle vakansie begin die oomblik as hulle in die motor klim. Die eerste soort is gewoonlik ook daardie vakansiegangers wat elke dag op die strand of by die swembad deurbring en wat nooit die oord verlaat nie. Die tweede tipe, die dorpstoppers hierbo, verken die omgewing en slurp elke stukkie inligting oor bakens, gedenkwaardighede en ander interessanthede grootoog op. 

Omdat die Drakensville-area so baie bied, het die personeel van ATKV-Drakensville besluit om hierdie nuuskierige vakansiegangers nóg nuuskieriger te maak deur toere na besienswaardighede te onderneem. Ons het met Johan Outram, bestuurder van die oord se Omgewingsentrum, gesels om bietjie meer uit te vind.

 

Wat het julle laat besef dat daar ’n behoefte aan kultuurtoere is? Waar het die idee ontstaan?

Die Erfenisstigting en Amafa KwaZulu-Natal is wyd betrokke by die bewaring van monumente en gedenkwaardighede. Daar is egter ’n behoefte om die geskiedenis meer toeganklik te maak vir elke Suid-Afrikaner sodat elkeen eienaarskap kan neem van die geskiedenis in sy totaliteit. Elke monument verteenwoordig ’n stukkie van die geskiedenis van ons pragtige land en dit moet gedeel word. Die belangstelling in die besienswaardighede van die Drakensberg het so gegroei dat ATKV-Drakensville die toere permanent sal onderneem sodat ons gaste hierdie ryke kultuurverskeidenheid kan beleef.

Hoekom dink jy kultuurtoere is so belangrik?

Kultuurtoere help ons om die mense agter die geskiedenis beter te verstaan. Daar is soveel wanpersepsies en onwaarhede oor die geskiedenis en gebeure. Tydens ’n kultuurtoer ontmoet mense met verskillende agtergronde mekaar omdat hulle ’n gemeenskaplike belangstelling het. So raak mense aan die gesels oor verskillende sienings omtrent die oorgeërfde geskiedenis. En gesprekke lei tot beter begrip en ’n beter verstaan van mekaar. 

Wat is die mense se terugvoer oor die algemeen?

Mense is hartseer oor die toestand van ons monumente en gedenkwaardighede. Wat egter in gedagte gehou moet word is dat elke Suid-Afrikaner ’n rol het om te speel in die bewaring of verwoesting van ons erfenis. Die geheim lê in die opvoeding van ons mense en die korrekte weergee van feite sodat mense besef dat daar agter die emosies feite lê wat ons as ’n nasie saambind. Oud en jonk ervaar oomblikke van “ek het nie so daaraan gedink nie” saam met ’n besef watter invloed gister se gebeure op vandag se lewe het.

Voldoen die toere aan die diversiteit van die vakansiegangers? Beplan julle ook besoeke aan ander besienswaardighede?

Beslis ja. Ons het diverse besoekpunte waar elke kultuurgroep se betrokkenheid uitgelig word. Ons beoog om meer toere aan te bied en sekere toere saam te stel volgens die kliënte se behoeftes. Ons wil die toere uitbrei om die historiese hotelle van die Drakensberg, Boesmankuns, Zoeloe-kultuurbesoeke, die geskiedenis van admiraal Johan Weston (wat Suid-Afrika se eerste suksesvolle vliegtuig gebou en gevlieg het), asook die verlore valleie en die valleibewoners in te sluit

Wie gaan saam op julle toere? Kinders, ouer mense, ouers en kinders?

Hoofsaaklik familiegroepe, paartjies, skoolgroepe. Die oudste persoon wat ’n toer meegemaak het, is 87 jaar jonk en die jongste net ses maande! Toere word in Afrikaans en Engels aangebied om aan te pas by die diversiteit van ons groepe. Ons kan die toere na gelang van die behoefte ook in Zoeloe en Sotho aanbied. 

Stel vandag se jeug belang in historiese slagvelde?

Daar is belangstelling in die mense se verhale agter die geskiedenisfeite. Datums en gebeure is nie so belangrik vir die jeug soos die menslike verhale van byvoorbeeld Aia Jana (slag van Bloukrans), Mahatma Ghandi (Spioenkop-slagveld), Sir Winston Churchill (Churchill se capture site en Spioenkop) en dan ook die vel (met tatoeëermerk) van ’n Britse soldaat wat vandag in die Belegmuseum is. Ons moet egter verseker dat die jeug meer  leer oor die monumente en ervarings van ons voorgangers.

Watter tipe vrae vra die toergangers gewoonlik oor die besienswaardighede?

Baie vrae gaan oor die instandhouding van die gedenkwaardighede. Ook  wat van die mense geword het ná die gebeure. Mense wil byvoorbeeld weet waar Lenie Retief begrawe is, en wat met generaal Buller gebeur het ná die Anglo-Boereoorlog. Mense stel ook baie belang in hoe een gebeurtenis die volgende gebeurtenis beïnvloed het. 

Kan mense wat nie by die oord vakansie hou nie, ook op die toere gaan?

Beslis ja. As hulle by ATKV-Drakensville oorbly, is die reëlings en die uitvoering van hulle voorneme net makliker.  

Drakensburg map

Iets anders wat jy graag wil hê voornemende besoekers moet weet van die toere?

Die kultuurtoere wat Drakensville aanbied, is uniek en enig in hulle soort. Toergangers kry geleentheid om besienswaardighede te besoek wat andersins nie maklik toeganklik vir die publiek is nie.

Wie kan mense kontak as hulle ’n toer wil meemaak?

Hulle kan ATKV-Drakensville se webwerf dophou by www.drakensville.co.za of die oord bel by 036 438 6287.