Skip to the content

RESENSIE: EK HET OPGESTAAN DEUR RINÉL DAY

Na ses jaar se wag, is aanhangers uiteindelik beloon vir hulle geduld met Rinél Day (oftewel Rinél Coetzer) se derde ateljee-album, Ek het opgestaan, en ’n tweede enkelsnit wat die plaaslike musiekbedryf behoorlik op horings geneem het.

Rinél is reeds vir meer as ’n dekade lank bedrywig in die musiekbedryf en spog ook met ’n reeks toekennings en loopbaan-hoogtepunte. Dit kom dus as geen verassing dat die titelsnit van haar nuwe album sedert sy uitreiking aan die begin van Julie 2020 bo-aan die treffersparade van verskeie radiostasies gepronk het nie.

RESENSIE: EK HET OPGESTAAN DEUR RINÉL DAY

EK HET OPGESTAAN bestaan uit vyftien Country-liedjies met ’n Pop-aanslag, wat Rinél se strelende stem behoorlik ten toon stel. Nie net beloof die klanke van hierdie album om almal lekker saam te laat luister, dans en kuier nie, maar die lirieke is ook van so aard dat die luisteraar maklik daarmee sal kan identifiseer.

Volgens Rinél het sy juis inspirasie vir hierdie album vanuit haar persoonlike lewe geput. Sy skryf al sedert 2016 aan die album en het ook ander skrywers genader vir hul insette, waarna die finale liedjieopnames deur Werner Beukes in Kaapstad behartig is.

Van die lekker-luister-liedjies waarna aanhangers kan uitsien is:

  • Ek Het Opgestaan, wat vertel hoe Rinél uit haar gebrokenheid opgestaan het en hoe sy gekom het tot waar sy nou is.
  • Gyselaar, vertel die storie van Rinél se egskeiding.
  • Jy’t My Gered, wat Rinél spesiaal aan haar verloofde geskryf het, nadat dié haar uit die kloue van depressie gered het.
  • Breek Die Mure Af, wat daaroor handel dat ons as mens bereid is om ons mure te laat sak vir die een wat ons liefhet en om daardie persoon volkome te vertrou.

Met bogenoemde treffers en nog vele meer gee Rinél Day se besonderse stem beslis weer nuwe betekenis aan Country-musiek. EK HET OPGESTAAN is verseker die perfekte album om nader te hark vir jou volgende kuier- of danspartytjie saam met vriende.