Namakwaland se Storie

posted on

Geskryf deur Das Badenhorst

Elke toer het sy eie storie, veral as jy die toeroperateur is en elke toer saam beleef.  Met Namakwaland is die eerste vraag natuurlik waar staan die blomme, helaas kan jy nooit vir jou gaste dit belowe nie.

storie1So het dit gebeur dat ons maatskappy ook sy eerste Namakwalandtoer aangepak het, maar die voordeel was dat die meeste toerlede alreeds saam met my getoer het.

Die oggend toe die bus arriveer sak my hart reeds in my skoene.  Dit was glad nie die bus wat ons veronderstel was om te ontvang nie, maar die kalf is in die put en ons moet die pad vat.  Die eerste gedeelte van die reis is aangenaam en het ons behoorlik ʼn mengelmoes van toerlede, amper soos ’n vrugteslaai, die ouderdomme wissel van 50 tot 83jaar.

Ons word verwelkom in Upington by Oranjerus Oord met ʼn glasie sjerrie en word met ʼn ongelooflike smaaklike ete bederf.  Elke toerlid ontvang sy hempie met die bewoording” My storie.”  Op ons toere is daar gewoonlik ʼn tema en in Namakwaland is daar altyd ʼn storie.

Die volgende oggend vertrek ons na Augrabies.  Christo loop met twee krukke en sy vrou kyk baie mooi na hom.  Ons begin met ’n heerlike stappie by Augrabiese watervalle en na die besoek aan die valle eet ons bietjie koek en tee by die bus voor ons vertrek.  Die dag verloop seepglad sonder enige onmin.  Ons besoek Pella se Sendingkerk en daarna vertrek ons na Klein Pella Gastehuis.  Die oneindigende grondpad skud en skommel.  Die busbestuurder wat ook ons gids is, is glad nie gelukkig met my oor die pad nie, maar ons ry.  Ewe skielik draai ons af na die hoeveelste bultjie – so het ek gedink – tot by ’n draaipad.

Ons sien die mooiste kokerbome en uiteindelik verskyn die dadelplaas soos ʼn oase voor ons.  Die lekkerste kuierplek vir die aand was die geloofskroeg.  Hier skryf jy op ʼn boekie watter drankie jy geniet en die volgende oggend voor ons vertrek vereffen jy net jou rekening.  Almal is vroeg uit en kyk hoe die son skelm tussen die berge en die dadelbome sy gesiggie begin wys.  Die plaasbestuurder vergesel ons na die dadelboom plantasies en daar hang ons behoorlik aan sy lippe van al die inligting wat ons bekom oor die bome.  Hoe stuifmeel geoes word en dan na die vroulike bome geneem word en per hand bestuif word sodat die dadelbome dieselfde tyd kan dra vir oestyd. Die manlike en vroulike bome staan glad nie naby mekaar nie – amper soos in afsondering.

Ons pad lei ons verby Pofadder waar ons eers by die kerk stop met alle gelowe se simbole.  Ons eerstestorie3 verdwaalde blommetjie staan stoksielalleen voor die kerk se hek.  Groot opgewondenheid oor hierdie blommetjie, en sy gesiggie word van alle kante afgeneem.  Op die knieë word gestaan, sommige doen die snaakse posisies van staan en dan wonder jy waar is die ouderdom eintlik as dit dan nou so buigbaar kan wees oor een enkele blommetjie.

Dis tyd om te vertrek na Springbok. Die pad lê uitgestrek soos ʼn luislang met verlate vlakte wat net uit sand bestaan.  Hier en daar is daar ʼn groot versamelvoëlnes te sien op telefoonpale en die versoek vir ʼn mooi foto laat ons stop.  Uit spring almal om die mooi foto vas te lê.  Terwyl daar op die hurke gesit word om die mooi nes in die kamera lens te kry, gebruik Elna die geleentheid om ʼn stok tussen die bene deur te druk terwyl daar groot konsentrasie op die foto is. Sekerlik nie nodig om te verduidelik dat die HAT in nuwe woorde herskryf is nie. Slang was die enigste gedagte

In die omgewing van Springbok is dit droog.  Soos in baie droog.  Anderkant Concordia staan ʼn windpomp by die dam en sing sy eie eentonige liedjie en geen waterdruppel is sigbaar nie.  Met ʼn blommetjie hier en daar en veral met die platdorings sien ons ʼn miernes.  Ure se vermaak was by hierdie nes om te sien hoe hard hierdie diertjies eintlik werk.

Ons besoek ander plekke ook, maar nogsteeds is die blomme nie regtig daar nie.  By Garies Toerisme Padstal word gestop want die heerlikste tuisgebak vind jy hier.  Vrolike boeremusiek speel by die Padstal, maar oral is bordjies op van die water skaarste.  Jy kry ʼn bekertjie met water as jy die toilette besoek.  Onmiddellik begin ons stadsmense besef watter voorregte ons het en waarmee die drooggeteisterde mense elke dag sukkel.

storie2Ons volgende stop is by Klawer Wynkelder.  Almal is opgewonde want die nektar van die kontrei kan nou geproe word.  Onse liewe Christo, man wat met krukke loop, bestorm die kelder sonder ʼn kruk.  Die opmerking van ʼn toerlid trek soos ʼn bliksemstraal by my ore verby….”tipies waar daar wyn is het niemand ʼn kruk nodig nie”.  Lekker geproe en genoeg gekoop, word die sleepwa vol gelaai.  Ons besoek aan die Rooibostee Fabriek is baie insiggewend en almal verstaan meer van die wonderlike rooibostee plant, sy veelsydigheid waarvoor dit gebruik word.

Ons oornag die aand op Lambertsbaai.  Almal klaar gepaint en poeier, en ons is oppad na die Opelug Restaurant Bosduifklip.  Pragtig geleë tussen die rotse met ʼn mooi geskiedenis.  Ons gasheer en gasvrou is baie vriendelik en almal word verduidelik hoe die groot spyskaart nou eintlik werk, want heel laaste word die spit gesny en moet nie kom vra voor die tyd nie. En o ja, “this is where the loo’s is or are”

Ons gids Leon neem stelling in langs van die toerlede en verduidelik aan die toerlid dat sy nie te veel van die heerlike warm tuisgebakte brood moet eet nie want ons weet mos presies hoe volg die spyskaart.  Maar die brood was haar voorkeur met die heerlike snoekpatee en sy het dit duidelik gewys.

Ek staan by die spitbraai lam en luister hoe die vetjies soos ʼn sissende slang saggies in die kole praat.  Almal is gesellig en gelukkig en veral met die plaaslike wynkelders se wyne wat te koop is. Die mense eet, en die mense eet en ek kyk en ek kyk en ek wonder wat gaan more gebeur, of hoe gaan hulle vanaand hulle self misslaap op daardie vol mae.  Die afval was ʼn groot hoogtepunt en natuurlik die waterblommetjiebredie.  Heel laaste voor die souskluitjies, kom die spitbraai lam van die kole en met al daardie vetjies staan die mense weereens in ʼn ry.

Ons groet, en die gasvrou en gasheer wat dan ook familie is van my, weet waar my hart lê.  Tuisgebakte storie4brood, botter, kerrievis en snoekpatee word ingepak vir Johannesburg.  Met ʼn traan in die hart groet ek met my skatte onder my arm, en die bus vertrek.

Die volgende dag moet ons Vanrhynspas uit en dit na ʼn besoek aan die vetplant kwekery by Vanrhynsdorp.  Mildelik word van omtrent elke vetplantjie gekoop, verpak in boksies, en kokerbome met permitte word ook gelaai.  Die bus moet vertrek maar jy sien net plante staan.  Onder die sitplekke van die bussie, in die gang en sommige sommer op die skoot, want die sleepwa is nou al omtrent vol van alle wyne en rooibos en lekkernye wat vir kind en kraai saamgaan huistoe.

Dit is amper 12uur toe ek op my horlosie kyk, ek ken Vanrhynspas.  Hy is nie enige man se maat nie en my hart kry ʼn onbekende klemming.  Ons het nog nie eens die pas aangedurf nie toe wys Leon vir my die bus begin kook.  Nou ja as ʼn Mercedes Sprinter bus se engine vervang is met ʼn Lexus outomatiese engine kan jy self dink wat die resultate is.  Ons trek orals aandag want almal wonder wat onder die enginkap aangaan as die meisie aan die beweeg kom.  Dit was lekker vir al die aandag, en die opmerkings van die Namakwaland se mense, maar nou voel ek nie meer soos lag en lekkerkry nie.

Leon vra om af te trek net voor ons die pas moet uitklim, want daar is ʼn boompie.  Stop maar en haal die tafeltjies uit, en so kom die brood en ander proviand wat Bosduifklip Restaurant vir my gegee het, nou op die tafel.  Almal is opgewonde want hier eet ons weer lekker aan koningskos, min wetend dat die bus eintlik besig is om te kook en hulle my persoonlike geskenk geniet.  Die vlaktes is dor en droog en ek kyk op in die pas en wonder of die woorde regtig waar is……ek slaan my oë op na die berge waar sal my hulp vandaan kom.  Die eerste hulp was daar, met die koningskos maar wat van verder….

Ons vertrek en ons was nog nie eens in die helfte nie, wys Leon weer die bus begin kook.  Nou ja trek maar weer af en almal klim uit, en die storie van die Knersvlakte boei almal.  Die mooiste foto’s in die hitte word geneem van die knersvlakte wat lyk soos ʼn maan landskap.  Na ʼn tydjie kry ek die teken dat ons maar weer kan ry.  Niemand vermoed nog enige iets nie.

Stadig maar seker klim ons die pas, maar my hart klop in my keel en sweet versamel in my hande wat nie gekend is nie.  Ek slaan my oë op na die berge en vra om hulp, maar op daardie oomblik kom geen hulp behalwe die hitte meter wat soos ʼn verwoede bul na rooi storm.  Ons moet aftrek.  Geen keuse nie ons moet.  Ek is teleurgesteld in die maatskappy waar ek die bus gehuur het, ek is moedeloos vir alles, want is nie gewoond dat dinge so skeef kan loop nie. Dinge waarvan ek geen beheer het nie.

Ons trek weereens af en gelukkig is daar ʼn rietdakkie met stoeltjies waar die toerlede kan sit want dit is warm.  Die sonbesies sing asof dit hulle laaste gesang is vir ʼn leeftyd.  Ek maak die bus se deur oop en besef nou het ek niks meer behalwe die blote waarheid wat ek moet vertel.  So doen ek dan ook die bekentenis van waarheid en vlug die berg in want die vernedering is groot en die trane wil loop.

storie5Na ʼn tydjie kom ek terug na die groep want my hart het vrede gekry en die hitte het my natuurlik ook teruggejaag na die koelte.  Ek kyk na die groep terwyl ek stadig drentel na hulle, maar hulle klink heel opgeruimd en glad nie so omgekrap soos ek nie.  Eenkant staan Leon, gids en busbestuurder en ek sien sy hart hang ook in sy skoene en ek kry hom ongelooflik jammer.  Ons maak maar die meisie (bus) se mond oop dat haar bloeddruk bietjie kan afkoel en gaan gesels verder met die groep.

Na maklik amper 2ure, is ons gereed om die laaste gedeelte van die pas aan te durf.  Ek begin sommer so in die loop na die bus bid, want asseblief tog kan ons net die plato bereik sonder enige voorval.  Gebede word wel verhoor, en so arriveer ons bo-op die plato sonder enige verdere voorval.  Ons gaan kuier gou by die Rieldansers van Calvinia.  Dis ʼn aardige besigheid om tred te hou met die voete wat skop-skop in die sand.  Almal kry ʼn geleentheid om deur die Rieldansers geleer te word hoe dans jy die unieke dans.  Tannie Bettie in haar laat 80jare word ondersteun deur twee jong knape wat haar help skop-skop dat stof en sand tussen jou tande beland.  Dis groot pret en almal geniet hulle gate uit saam met die rieldansers.  Die wenners word aangekondig en ontvang ʼn prys vir hul beste poging.

By Calvinia hotel geniet ons die heerlikste skaapgereg.  Die volgende oggend vertrek ons terug na Oranjerus Oord vir ons afsluiting van die toer.  Met ʼn sjerrie in die hand, en die son wat stadig maar seker wegsak in die Oranjerivier, en net die gloed wat oorbly op die horison, weet ek dat ek vanaand die groep stadig maar seker moet begin groet.  Die vrugteslaai van mense het in my hart gekruip en eintlik my vriende geraak.

Ons laaste ete saam, en Oranjerus Oord se spyskaart en tafel lyk soos ʼn afsluitings geleentheid.  Ek stap in en kyk na die flikkerende vlammetjie van die kerse op die tafel, en besef dit is eintlik hoe my hartjie voel. Saggies sing Lee Magnum in die agtergrond Adios Amigo….

Met ons toere kry jy ʼn sertifikaat vir aandenking en ʼn geskenkie.  Maar voor hierdie gebeur vra ek altyd wat sou jy graag aan die toer verander.  Die opmerkings was min, maar die stories was boeiend.

Elisia wou graag weet hoekom Christo sonder sy krukke kon loop en dit na Klawer Wynkelder.  Weereens kom die waarheid uit.  Sy kruk het by die Augrabiese Watervalle afgeval, maar hulle het vir niemand vertel nie. (Met elke toer kyk ek nog of ek ʼn koggelmander met ʼn kruk sien loop)storie6

Op ligte luim was daar wel genoem dat nie veel blomme gesien was nie, maar wel die bekende katnaels wat min mense regtig sien.

Een van die toerlede vertel dat dit vir haar die lekkerste toer ooit was.  Sy het Namakwaland ontdek met die minste wat hy het, en dit het haar eintlik laat besef, dat hoe minder jy het, dat jy eintlik die meeste van almal het.  Die afstaan tyd in die pas met die ongerepte knersvlakte wat dor en eensaam daar gelê het, het sy haar Vader in daardie tyd ontmoet.

Die volgende oggend vertrek ons terug na Randburg.  Dit is stil in die bus en niemand praat regtig nie.  Ek raak bekommerd oor die stilte in die bus, maar toe die bus stop en almal begin groet en die trane loop besef ek……….

Elkeen van ons op hierdie bus kan ʼn storie skryf……My Storie…..ATKV-toer 2017.

| Categories: Blog | Tags: | View Count: (528) | Return