Die epiese verhaal van Racheltjie de Beer wys vanaf Oktober 2019 in SA fliekteaters

posted on

Die langverwagte Afrikaanse rolprent van die jaar, Die Verhaal van Racheltjie de Beer, word in Oktober 2019 landswyd vrygestel.

Die film is gegrond op die topverkoper roman met dieselfde naam deur die skrywer en filmmaker Brett Michael Innes en vertel die legendariese storie van die Afrikaanse gesin, die De Beers, wat in die 1800’s verplig was om skuiling op ’n plaas in die Oos-Vrystaat, Suid-Afrika, te soek. Namate die winter arriveer en donker wolke en sneeu oor die Drakensberge rol, word die toneel vir ’n tragedie om te gebeur, geskep.

10648_MatthysBoshoff...“Die rolprent is geïnspireer deur hierdie geliefde verhaal van die vroulike volksheldin, Racheltjie de Beer, en staan bekend as ’n Afrikaanse storie vir alle Suid-Afrikaners, wat van geslag tot geslag oorgedra word,” het Innes gesê. “Toe Racheltjie en haar broertjie van die res van hulle groep geskei is, het die jong dogter haar lewe opgeoffer om haar boetie te red en op die manier is sy verewig in ons landsgeskiedenis as ’n jeugdige heldin.”

“Om die heroïes-emosionele en visuele aard van die storie te akkommodeer, het ons die kinomatiese styl vir die grootskermervaring aangepas,” het die regisseur, Matthys Boshoff, verduidelik. “Die rolprent beskik oor ’n intieme dog epiese kwaliteit, wat strek van die klank en produksie-ontwerp tot die musiek, kamerawerk en die emosionele reis waardeur die karakters en die gehoor gaan. ’n Groot deel van hierdie reis word verpersoonlik deur die transformasie van die landskap van welige laatsomer- tot barre middelwinterstoestande wanneer alles met sneeu bedek is. Die temas van lewe en dood, verlies, dapperheid, opoffering en liefde tree almal sterk na vore.”

Wat is die kanse om die magte van die natuur te oorleef? Soos wat die pa en sy twee kinders en hulle gehawende wa deur die harde en ongenaakbare omgewing met die indrukwekkende Drakensberge teen die agtergrond trek, word dit duidelik hoe klein die mens in verhouding met die grootse skepping is.

“Ons wou nie die skoonheid van berge probeer romantiseer nie, maar dit eerder op ’n manier gebruik om die malheid, vasberadenheid en ongelooflike wil en aanpasbaarheid te probeer uitbeeld wat dit neem om met twee jong kinders en ’n ossewa deur hierdie uitdagende landskap te reis,” het Boshoff gesê. "Hulle is hierdie klein mensies wat deur die grootsheid van die natuur oorskadu word.”

Die rolprent is op die plaas Tierhoek in die ruwwe Oos-Vrystaat geskiet omdat die filmmakers ’n plek gesoek het wat die harde werklikheid om in die 1800’s op ’n afgeleë en onherbergsame plaas te woon, sou uitbeeld.

“Hoewel ons die tydperk nie onnodig wou romantiseer nie, was ons vasbeslote om ’n plek te gebruik wat oor poëtiese kwaliteite beskik en die storie tot sy reg sal laat kom,” het Boshoff bygevoeg. “Geleë in ’n vallei wat deur berge omring word en met ’n plaashuis en buitegeboue wat in die 1870’s opgerig is, was Tierhoek die perfekte keuse. Die klipwerk is nog in ’n uitstekende toestand en daar was min moderne elemente – geen telefoonlyne of elektrisiteit nie. Die huis is nog nooit gerestoureer nie en het ’n ou siel; mos groei teen die mure en brandmerke van die Anglo-Boere-oorlog is nog plek-plek sigbaar.”

Buiten die aksie wat plaasvind, is die rolprent se visuele effekte merkwaardig, veral vir ’n Afrikaanse rolprent. “VFX-werk sluit elemente soos onweerswolke, ’n luiperd, ’n bobbejaan, ’n sebra en vallende sneeu in,” het die vervaardig Johan Kruger opgemerk. “Na my wete het geen ander Afrikaanse rolprent VFX al op hierdie vlak ingespan nie en waarskynlik ook geen ander plaaslike rolprente nie, behalwe as groot internasionale deelname ter sprake was. Om verskeie redes kon ons nie anders as om in die winter en in werklike sneeutoestande te skiet nie, maar die groot magic van VFX lê in die elemente en beelde wat die storie selfs beter toelig.”

Volgens Boshoff word meer as 220 visuele effekte in die rolprent gebruik. “Ons wou menslike eienskappe en gemoedstemminge toedig aan die weer, en in die besonder die storm. Ons het dus nie net skoon hemelruimtes met afgesaagde beelde van wolke vervang nie, maar eerder ons eie wolkestelsel saamgestel wat ons kon manipuleer en rondbeweeg soos wat dit ons pas. Dit het ons toegelaat om aan die storm ’n persoonlikheid te gee, om dit donkerder te maak, vinniger te laat beweeg en die landskap met weerlig dreigend te maak. 

Die sterbelaaide rolverdeling sluit Stian Bam (Modder en Bloed, Verraaiers), Zonika de Vries (’n Man Soos My Pa, Dis Koue Kos, Skat), Marius Weyers (Dis Ek, Anna, Faan Se Trein), Sandra Prinsloo (’n Man Soos My Pa, ’n Pawpaw Vir My Darling), Antoinette Louw (Bram Fischer, Nul is Nie Niks Nie) en Beate Opperman (Verraaiers, Roepman) in. Johannes Jordaan vertolk sy heel eerste rol as Racheltjie se kleinboet in hierdie prent.

“Die legende van Racheltjie de Beer is ’n verhaal vir alle tye en baie Suid-Afrikaners beskou dit as deel van hulle erfenis,” het Helen Kuun, besturende direkteur van Indigenous Film Distribution gesê. “Dit is vir ons ’n voorreg om betrokke te wees by die herlewing van haar storie op die silwerskerm, ’n verhaal wat aanklank by lojale aanhangers sowel as jonger, eietydse gehore vind.”

Lokprent: https://www.youtube.com/watch?v=S5EeVeOJqtQ

Indigenous Film Distribution: www.indigenousfilm.co.za

| Categories: Nuus | Tags: | View Count: (232) | Return