Luggeweer Wêreldkampioenskappe

posted on

ʼn Kliniese sielkundige van Pretoria is die enigste Suid-Afrikaanse vrou wat van 6 tot 11 Augustus aan die Wêreldkampioenskappe in veldteiken skiet met ‘n luggeweer in Engeland gaan deelneem.

Dr Diana Zoccola (47) se droom: om ʼn plek onder die top vyf vroue in die wêreld los te skiet.

safta_03Boonop is sy die Suid-Afrikaanse Veldteiken Skiet Luggeweer Assosiasie (SAFTAA) (Engels is South African Field Target Airgun Association) se koördineerder vir aanstaande jaar se Wêreldkampioenskappe in dié sport wat van 19 tot 23 Augustus by die ATKV-Buffelspoort in die Rustenburg-distrik in die Noordwes aangebied word.

Zoccola, 'n voormalige senior weermagoffisier, het in die mag leer skiet met 'n R4-geweer en skietfiks gebly.

Sy het nog altyd individuele sportsoorte soos muurbal en bergfietsrenne verkies.

In 2010 het sy haar eerste jaggeweer aangeskaf.

“Ek het met ʼn luggeweer begin skiet om my te help met skootplasing en akkuraatheid wanneer ek jag. In 2012 het ek die Protea-span in veldteken skiet as sportsielkundige voorberei vir die kampioenskap in Noorweë. Hulle het met ʼn algehele silwer medalje na Suid-Afrika teruggekeer.

“Teen 2013 het die gogga my behoorlik gebyt en het ek vir ontspanning aan veldteiken ligabyeenkomste begin deelneem en in 2014 het ek aan my eerste nasionale kampioenskappe deelgeneem,” vertel Zoccola.

Sy het ná ʼn beroerte in 2014 25% van haar visie in beide oë verloor. Sy is onder meer bysiende asook gediagnoseer met gloukoom. Dit het haar meer vasbeslote gemaak om te presteer.

“Ek glo as jy jou energie en fokus op iets sit, kan jy enige iets bereik ongeag jou ouderdom of fisiesesafta_01 beperkings. Jy is jou eie grootste vyand wanneer jy struikelblokke moet oorbrug en moet die heeltyd met jouself praat,” sê Zoccola.

Sy het in die 2017 Wêreldkampioenskappe in Wallis twaalfde van al die vroue geëindig.

Zoccola praktiseer van 1998 en spesialiseer in onder meer traumaberading. Sy het egter die laaste dekade baie werk as sportsielkundige gedoen.

“Ek wil ʼn rolmodel wees vir my pasiënte en mede-atlete en gebruik my eie lewenservaring, agtergrond en kennis wanneer ek hulle help om hul uitdagings te oorbrug, ongeag die sport waarin hulle deelneem of lewenskrisis wat hul deurgaan."
 

| Categories: Nuus | Tags: | View Count: (107) | Return