Namakwalandse toer

posted on

Hoe lank het ons nie uitgesien na hierdie toer in 2017 nie. Ons het reeds in Oktober 2016 ons plekke bespreek. Eers het ons die maande afgetel, daarna die weke en uiteindelik die dae. Maand na maand het ons die reënverslae dopgehou. Gaan dit reën? Gaan ons blomme sien? Gaan die wind waai? Maar God het sy hand toegehou en die reën het weggebly. Nou ja, dan verander jou verwagtings. Ons gaan nie plate blomme sien nie, maar ons gaan Namakwaland beleef.

Gewoond aan kinders, personeel sowel as ouers om my, soek ek tog my eie ruimte. Hoe gaan ek oorleef met agtien onbekende mense in ’n bussie vir duisende kilometers? Maar appels, piesangs, papajas en lemoene saam maak heerlike vrugteslaai… Ek gaan sorg dat al hierdie verskillende mense in my ruimte vir die volgende paar dae saam met my smaaklike vrugteslaai word. Dalk kom daar nog roomys ook by!

IMG-20170921-WA0021

Vroeg Maandagoggend sit almal in hulle eie motors en wag vir die bus, die ene afwagting. ’n Dame begin houers en houers aflaai. Ons wonder of sy so baie padkos saamvat, min wetende dat in daardie houers die heerlikste koekies en beskuit skuil wat ons gaan verorber.

Die bus arriveer en vol energie spring ons toerleier en busbestuurder uit. Sommer dadelik stel ’n paar van die manne hulleself aan as bagasiemeesters vir die res van die toer. Klaar gepak en daar vertrek ons klomp vreemdelinge stil-stil na Upington. Eerste stop en die flesse en beskuit kom uit. Die geselsies word meer, bietjie meer lag en stadig raak dit ’n vrolike gebabbel. Interessante feite en inligting kom van ons toerleier af.  

Moeg kom ons by ons eerste oornagplek aan, ’n wonderlike oase langs die Oranjerivier. Hier beleef ons die mooiste sonsondergang, net so rooi en warm soos die hartsmense, die personeel wat daar werk. Ons ontvang boeiende inligtingsmateriaal met woorde soos  bababoudjies, bokspoortjies en kapokbos wat my nuuskierigheid dadelik prikkel. 

Die tweede dag reis ons na Klein-Pella via Augrabies. Weer ervaar ons die grootsheid van die skepping –  die Augrabiese waterval – die groot geraas. Een van ons toerlede verloor ongelukkig een van sy krukke by Augrabies. Dit is saam met die water weg. Ek was nie bewus daarvan nie en prys hom ’n paar dae later dat hy so mooi verbeter het dat hy nou slegs een kruk nodig het. Gelukkig kon ons lekker lag daaroor, maar ek was vreeslik verleë.

IMG-20170921-WA0026

’n Hoogtepunt was die hektaar en hektaar dadelpalms by Klein-Pella. Hier is dit soos ’n oase in die semiwoestyn. En daai dadels! Te heerlik. 

Ons reis verder verby Pofadder op pad na Springbok. Die droogte is erg. Dis dor, dis warm, dis hartseer. Jy sien byna geen lewe nie. Ek sien die stapels swart klippe langs die pad en skielik kom dié beeld voor my geestesoog. Toe God Namakwaland geskape het, was Hy al moeg en bietjie moedeloos. Hy gooi toe die klippe neer net om klaar te kry. Daarna staan Hy terug en bekyk die landskap. Nee, sê Hy, so kan Ek dit nie los nie. En toe sit Hy die blomme by.

Skielik is almal opgewonde. Die eerste blomme is daar – min, maar hulle is darem daar. Ons hou stil en almal spring uit. Dis kameras en gebukkende mense net waar jy kyk. Die blomme is min, maar omdat daar nie plate is nie kry ons die uniekste soorte te sien. Katnaels, gousblomme, beatle daisies, koppies en pierings, sambreeltjies… Ai, die name is so dierbaar en so beskrywend.

IMG-20170921-WA0029

Die Voëleiland by Lambertsbaai is spesiaal, maar die ete by Bosduifklip is onvergeetlik. Die eienaars is hartsmense soos jy net daar in Namakwaland kry. Ek dink nie daar is nog ’n plek in die wêreld waar jy daardie opregte, na aan die aarde mense kry soos in Namakwaland nie.

Iets wat my altyd sal bybly, is die skielike stilword wat ons as toergroep beleef het op Van Rhynspas. Die stille verwondering terwyl jy afstaar oor die Knersvlakte… Die grootsheid, die wye stilte, die klippe en eindelik die niks wat voor jou uitstrek tot in die verte.

Calvinia, die Hantam met sy rieldansers sal ek ook nooit vergeet nie. Die hele groep wat so  spontaan saam rieldans dat die stof staan. Wat ’n wonderlike projek wat die ATKV hier bedryf. Die uitdrukking op daardie jong kinders se gesigte terwyl hulle stofskop. Met jeukvoete dans  almal dat die aarde bewe. 

Maar nou moet ons omdraai. Weg van Namakwaland, weg van Boesmanland, weg van die Hantam – terug huis toe.

Teen hierdie tyd was die groep nie meer appels, pere en piesangs nie, maar ’n bak gesonde  vrugteslaai; vriende binne tien dae met heelwat roomys by.

Wat ’n uitstekende en georganiseerde toer met ’n uitstekende toerleier en ’n baie bekwame busbestuurder. 

Ek kan enige toer Namakwaland toe saam met die ATKV aanbeveel. Blomme is ’n bonus, nie ’n vereiste nie!

| Categories: Blog | Tags: | View Count: (79) | Return