ATKV-Crescendo-musiekfees

posted on

Die finale van ATKV-Crescendo 2017 vind op 9 Desember 2017 by ATKV-Goudini Spa plaas. Kunstenaars van regoor die land sal hul talent hier ten toon kom stel.

Die ATKV-Crescendo-finale word die eerste keer as ’n publieke konsert in die ope lug aangebied en kaartjies sal vanaf 1 November op Computicket beskikbaar wees. Koste beloop slegs R60 per persoon, R30 vir groepbesprekings van 10 of meer en R30 vir kinders jonger as 12. Mense wat vir die naweek by die oord bespreek, sal slegs R60 per gesin betaal sodat die hele gesin die musiekfees kan kom geniet.

Hekke open om 17:00. Plaaslike talent vanuit die Breedekloofvallei en Worcester sal die vermaak verskaf. Eet- en drinkgoed sal by stalletjies te koop aangebied word. Besoekers kan ook hul eie piekniekmandjies pak. Die amptelike voorprogram begin om 18:30 en die Shoprite TOPSTARS-finaliste en Whaden Johannes, die ATKV-Crescendo-finalis in 2016, sal optree.

Die ATKV-Crescendokonsert wat om 20:00 begin stel 14 nuwe talentvolle kunstenaars bekend. Hulle sal saam met groot name soos HemelBesem, Anna Davel, Danie van Spoegwolf, Deon Meiring, DieHooflig en Oxijin hul slag wys. Hulle word deur die ATKV-Crescendo-orkes onder leiding van William Jacobs begelei. William is ook saam met Melissa van der Spuy die musiekregisseurs wat sal seker maak die produksie is van hoogstaande gehalte.

ATKV-Crescendo stel nuwe klanke in die Afrikaanse musiekmark bekend. Feesgangers kan uitsien na R&B, funk, soul, reggae, country en tradisionele Afrika-gospel en selfs ’n wyer Afrikaanse dialek wat Tsotsi en Lwaat van Kimberley insluit.

ATKV-Crescendo stel ook busvervoer beskikbaar vanuit gebiede soos Atlantis, Stellenbosch en Worcester vir persone wat graag die musiekfees wil bywoon. Vir busbesprekings teen R30 per persoon kan die volgende persone gekontak word:

Atlantis: Annie Peterson 0733979717 of Rachel Watson/ Radio Atlantis 0729903520

Stellenbosch: Hilton Andries 0616897683

Worcester: Rochelle Fourie 0738285334 OF Rumacques Gelderbloem 0826934255

Kontak vir Morne van Staden by 011 919 9091 vir meer inligting of stuur vir hom ’n e-pos na mornes@atkv.org.za.

| Categories: Nuus | Tags: | View Count: (473) | Return