Queen of the Kitchen kook by Klein-Kariba!

posted on

21764937_11462347221...Limpopo: Een van die geheime bestanddele van ’n suksesvolle kombuisstorie is ’n ongelooflike assistent. Met die Queen of the Kitchen-kookkompetisie word gesoek na die kreatiefste en inspirerendste kombuisassistent in Suid-Afrika! Dié kookkompetisie het reeds op 25 September 2017 by ATKV-Klein-Kariba begin en duur tot 29 September.

Daar is ongeveer 15 spanne wat aan die Queen of the Kitchen-kookkompetisie deelneem; ’n erkenningskompetisie waarmee gefokus word op die ontwikkeling van kombuisassistente se vaardighede. Die klem val op die hegte vriendskapsverhouding tussen ’n koskenner en sy/haar kombuisassistent asook die passie vir kook wat albei deel. Hierdie kompetisie het ook ’n grafiese element deurdat deelnemers foto’s van hulle disse moet neem. Kreatiwiteit word hier getoets en bonuspunte word toegeken vir die beste foto’s. ’n Kort fotografiekursus is tydens die opening van die kompetisie aangebied en deelnemers kon hulself touwys maak in die neem van kosfoto’s op allerhande interessante maniere.

22089584_11479846286...“ATKV-Klein-Kariba wou graag by dié projek betrokke raak omrede ons graag erkenning wil gee aan mense wat jare lank in kombuise werk, dit geniet en smaaklike kos voorberei. Dit is belangrik vir ons dat deelnemers bemagtig word en ’n platform gegee word om hulself uit te leef,” meen Wim de Wet, oordbestuurder van ATKV-Klein-Kariba. “Ons wil hê deelnemers moet hierdie geleentheid gebruik om hul talente ten toon te stel en dit is ons verantwoordelikheid as ATKV-oorde om terug te gee aan die gemeenskap.”

Die wenner word op 29 September 2017 aangekondig  en sal wegstap met ’n kontantprys van R35 000. Deelnemers wat die tweede en derde plek behaal, gaan egter nie met leë hande huis toe nie. ’n Kontantprys van R25 000 wag op die deelnemer in die tweede plek en die deelnemer in die derde plek ontvang R15 000. Deelnemers het regoor Suid-Afrika saamgetrek om saam te kook en een gelukkige wenner sal met die titel wegstap.

“Dit is vir ons as beoordelaars belangrik dat elke span saamwerk en ’n eenheid vorm. Die beplanning, aanbieding van kos asook die geure en kombinasies speel ’n groot rol in die toekenning van punte tydens dié kookkompetisie. Deelnemers moet deelneem omdat hulle ’n passie vir kosmaak het!” vertel Poppie Coetzer, top-4-finalis van Kokkedoor en beoordelaar van Queen of the Kitchen.

“Ons is hier om die week te geniet en om erkenning te gee aan ons hotel se personeel wat lang ure in die kombuis spandeer,” vertel Joseph Louw, kombuisassistent van Elna Mocke wat al die pad van O’Kiep in die Noord-Kaap kom. Daar is aan elke span riglyne voorsien en elke span moes hul eie resepte saamstel. “Ons is so voorbereid soos ons kan wees, kosmaak is ons werk en ons gee ons beste dié week!”

22046447_11479845986...Waarna kan gaste uitsien by ATKV-Klein-Kariba?

  • Actionman vind op 7 Oktober 2017 plaas.
  • Die Nguni Slow Meat Experience en veiling vind van  3 - 4 November 2017 plaas.
  • Die gewilde Studentejol skop op 3 Desember 2017 af.

Meer oor ATKV-Klein-Kariba

Sowat negentig minute se ry van Johannesburg af, net buite Bela-Bela, sprankel ATKV-Klein-Kariba in een van die Waterberge se mooiste klowe. Hierdie pragoord bied verskillende soorte akkommodasie met egte Bosveld-gasvryheid. ’n Verskeidenheid aktiwiteite, ontspanningsgeriewe en fasiliteite soos ’n restaurant, kitskosafdeling en ’n goed toegeruste winkel verseker dat gaste nie een ongerieflike oomblik beleef nie. Boonop is Klein-Kariba geleë op die Bosveld-toeristeroete en die ideale basis vir verskillende dagtoere. ATKV-Klein-Kariba – ware gasvryheid by die juweel van die Bosveld!

| Categories: Nuus | Tags: | View Count: (405) | Return