Maak My 'n Miljoenêr
Die top 60 van die Maak My ’n Miljoenêr-kompetisie is hier! ATKV-Oorde ondersteun vanjaar die Maak My ’n Miljoenêr Entrepreneur van die Jaar-kompetisie. Die fokus is om hoërskool-entrepreneurs te ondersteun deur hulle aan te moedig om reeds vroeg in hul lewens besighede te begin.
Die Maak My ʼn Miljoenêr Entrepreneur van die Jaar-kompetisie, wat ook op ViaTV uitgesaai word, is ’n landswye hoërskool-entrepreneurskompetisie met ’n tweeledige doel:
- Om entrepreneurskap onder die jeug van Suid-Afrika te bevorder.
- Om jong hoërskool-entrepreneurs te identifiseer, met entrepreneursvaardighede te bemagtig en hulle te mentor om tot suksesvolle sakelui te ontwikkel.
Die kompetisie is ’n inisiatief van Albert van Wyk in samewerking met ATKV-Oorde. Die doel is om entrepreneurskap te bevorder en hoërskool-entrepreneurs regoor Suid-Afrika te bemagtig.
Vroeër vanjaar het Albert van Wyk en sy span 96 hoërskole regoor Suid-Afrika besoek en meer as 120 000 leerders toegespreek. Die top 60 is uit 260 inskrywings gekies. Hierdie skoolbesoeke dien om leerders te inspireer om vroeg al hul eie besighede te begin. Albert het self sy eerste miljoen reeds op die ouderdom van 22 verdien en deel sy storie om leerders te motiveer om dieselfde pad te volg.
Vorige wenners – Riaan du Toit (2025), Jason Coulson (2024), Shaniqua Steenkamp (2023) en Matthew Blauw (2022) – dien saam met Albert as mentors vir die volgende generasie entrepreneurs. Die top 60 kry nou die geleentheid om entrepreneurswerkswinkels by te woon waar hulle waardevolle netwerke kan bou. Hierdie werkswinkels word deur Albert en die vorige wenners aangebied, en behels intensiewe sessies van tot agt ure waarin besigheidsvaardighede en praktiese wenke gedeel word.
Na die verwerking van die inskrywings word entrepreneurs met bestaande besighede uitgenooi na voldagwerkswinkels in die Paarl, Bloemfontein en Gauteng. Die doel van hierdie werkswinkels is om die deelnemers te leer hoe om hul besighede uit te brei deur die tegnieke toe te pas wat Albert en die wenners in hul eie besighede gebruik. Daarna word deelnemers verder op grond van hul besigheidsboeke geëvalueer. Die volgende fase is die Brandbank – ’n fisieke rooi bank waar elke entrepreneur deur ’n paneel beoordelaars ondervra word om hul besigheidskennis en -begrip te toets.
Na die Brandbank-sessies word die top 30 gekies, wat dan aan werklike besigheidsuitdagings deelneem. Hierdie uitdagings dien as ’n eliminasieronde. Sommige van hierdie uitdagings vind plaas by ATKV-Oorde, waar deelnemers praktiese ervaring opdoen. Die kompetisie bereik sy hoogtepunt by ’n glansryke gala-aand by die Fairtree Atterbury-teater, waar die wenner aangekondig word.
Die wenner van die Maak My ʼn Miljoenêr Entrepreneur van die Jaar-kompetisie en ViaTV-reeks ontvang die trofee, R50 000 kontant, verskeie borgpryse en toegang tot ’n jaarlange mentorskapprogram saam met Albert van Wyk.
Die wenner word bepaal op grond van punte wat tydens die Brandbank-sessies verdien word, besigheidsuitdagings en die evaluering van hul finansiële state, insluitend wins, omset en groei.
Ons sien uit om te sien hoe hierdie hoërskool-entrepreneurs in hierdie seisoen van die Maak My ʼn Miljoenêr-kompetisie en ViaTV-reeks groei en presteer. ATKV-Oorde bly verbind tot die bevordering van entrepreneurskap in Suid-Afrika en streef daarna om ’n positiewe impak op die land se toekomstige entrepreneurs te maak.
Vir meer inligting oor die kompetisie, besoek gerus https://www.maakmynmiljoener.co.za/ of kyk na verlede jaar se reeks by www.youtube.com/@maakmynmiljoener
Die nuwe seisoen word vanaf 24 Augustus op Maandae om 19:00 op ViaTV (DStv kanaal 147) uitgesaai.