Nog ’n jong entrepreneurskapkampioen danksy ATKV-borgskap gekroon
Lucas Maree se liedjie, “Ek sou kon doen met ’n miljoen!” is vir vele net ’n droom, maar danksy die jong entrepreneur en selfgemaakte miljoenêr, Albert van Wyk, en die televisieprogram, Maak my ’n miljoenêr, is daar die afgelope paar jaar al ’n paar hoërskool-entrepreneurs sterk op pad na hul eerste miljoen.
In dié program, wat deur die ATKV geborg word en op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai word, deel Albert praktiese wenke en strategieë om finansiële onafhanklikheid te bereik. Albert identifiseer hoërskool-entrepreneurs wat hy kan mentor om hul finansiële drome te bewaarheid. Die top-entrepreneurs se vermoëns word getoets, waarna ’n top-20 gekies word voor die drie wenners by ’n galageleentheid gekroon word.
Angie Gallagher, senior subredakteur by die ATKV, was vanjaar die ATKV se gasbeoordelaar tydens die brandbank-sessies wat deel van Maak my ’n Miljoenêr se uitdunrondes was.
Tydens die galageleentheid op 14 Oktober by die Atterburyteater in Pretoria, waar die top-20 teenwoordig was, is die top-10 aangekondig, wat so ’n bietjie meer oor hulself vertel het, waarna die topdrie en algehele wenner van die kompetisie aangekondig is. ATKV-Oorde was die hoofborg by 2025-galageleentheid.
Vanjaar is die derdeplekwenner Marike Theron van die Hoërskool Merensky, Alexis van Staden van die Goudveld Hoërskool is die naaswenner en Riaan du Toit van die Hoërskool Overvaal het met die louere en die Maak my ’n Miljoenêr-wisseltrofee weggestap.
Samantha Nel, distribusiekanaalkoördineerder van ATKV-Sake, sê: “Wat ’n ongelooflike inspirasie om te sien hoe jong mense woeker en hul drome met soveel passie nastreef!” Sy sê die galageleentheid was ’n wonderlike ervaring en alle ATKV-verteenwoordigers het dit baie inspirerend gevind.
Albert was op 22 ’n selfgemaakte miljoenêr en het die afgelope vier jaar al duisende leerders toegespreek en gehelp om hul drome en doelwitte te bereik.
Albert sê is die program se doelstellings is tweeledig. “In die eerste plek probeer ons bewusmaking oor entrepreneurskap onder ons jeug skep. Dit ís moontlik om jou eie besigheid te begin en jou eie toekoms te skep,” sê Albert.
Hy sê daar word nie in skole en in ouerhuise genoeg oor entrepreneurskap gepraat of genoeg klem daarop gelê nie.
“Met die program identifiseer ons jong entrepreneurs in ons skole en hulle word gementor om moontlik miljoenêrs te word. Daar is soveel entrepreneurs in ons skole wat net ’n bietjie raad en leiding nodig het.”
Saam met die ATKV het Albert en sy span vanjaar 82 skole besoek en meer 93 000 leerders toegespreek. In die eerste jaar van die kompetisie – 2022 – besoek Albert en sy span 16 skole en spreek meer as 13 000 leerders toe. Die wenner van die reeks was toe Matthew Blauw van die Hoërskool Oos-Moot.
Die span het in 2023 40 skole besoek en meer as 42 000 leerders toegespreek. Die wenner van die reeks was Shaniqua Steenkamp van die Hoërskool Dr. E.G. Jansen.
In 2024 het die span altesaam 60 skole besoek en meer as 65 000 leerders toegespreek en die wenner van die reeks was Jason Coulson van Hoërskool Die Anker, terwyl nie minder nie as 93 000 leerders van meer as 80 skole vanjaar van Maak my ’n Miljoenêr gehoor het.
Albert sê hy wens daar was iemand wat vir hom op skool die nodige leiding gegee het wat hy tans aan leerders bied. “Daar was nie so iemand vir my nie – ek moes lesse op die harde manier leer deur my eie ervaring op te bou. Ek wil nou graag daardie entrepreneur wees wat jong entrepreneurs touwys maak en inspireer om finansiële onafhanklikheid te bereik.”
Albert sê hy is dankbaar vir die ATKV se ondersteuning.
“Sedert die ATKV betrokke geraak het, het ek net weer besef hoe baie die organisasie vir die jeug van Suid-Afrika omgee – nie net met die jeugprojekte wat hulle aanbied nie, maar ook met hul bydrae tot die Maak my ’n miljoenêr-projek.
“Dit is duidelik dat die ATKV passievol is oor ons jongmense en hulle graag wil bemagtig.”
Samantha vertel: “ATKV-Oorde werk al die afgelope twee jaar saam met die Maak my ’n Miljoenêr-span. Die kompetisie onder hoërskoolleerders gee deur hierdie inisiatief leerders die geleentheid om in besigheid gementor te word en te leer hoe om hul ondernemings te laat groei en floreer. Leerders met verskillende besighede skryf in, van biltong en heuning verkoop, tot snoepies by skole of diere-oppasdienste.
“Die ATKV het nog altyd skoolleerders met verskeie projekte ondersteun, maar hierdie projek is vir ons besonder spesiaal, omdat ons land se ekonomie meer entrepreneurs benodig – mense wat werksgeleenthede skep en sukses nastreef. Daar is soveel talent onder die kinders, en ons het oor die laaste paar jaar soveel inspirerende boodskappe en verhale gehoor van die entrepreneurs.”
Die uitdaagrondes van vanjaar se kompetisie is by verskeie ATKV-oorde regoor die land aangebied, waar die jong entrepreneurs die geleentheid gekry het om hul kreatiwiteit, deursettingsvermoë en entrepreneursvaardighede behoorlik te toets.
Sy sê ATKV-Oorde gee ook vir studente die geleentheid om oor skoolvakansies daar te werk en kennis op te doen oor hoe om met mense te werk; en om ondervinding op te doen.
“Wanneer kinders aan hierdie program deelneem, verkry hulle nie net besigheidskennis nie, maar leer hulle ook hoe om selfvertroue te hê wanneer hulle voor mense praat, hoe om hulself te bemark en hoe om verantwoordelikheid vir hul eie toekoms te neem. Hulle word ook aangemoedig om ’n verskil in hul gesinne en gemeenskappe te maak, wat ook een van die doelstellings van die ATKV is.
“ATKV-Oorde was baie bevoorreg om deel te wees van hierdie proses en om te help om die leerders blootstelling aan die buitewêreld te gee. By die oorde het hulle aan uitdagings deelgeneem wat hulle geleer het om hard te werk, doeltreffend te kommunikeer en te verkoop. Dit was werklik mooi om te sien. By die gala-aand het die leerders ’n kans gekry om hulle stories te vertel en ons monde het oopgehang om te sien hoe mense aanhou tot hulle wen, selfs in moeilike omstandighede, en dat dit moontlik is om ’n besigheid met R0 te begin.”
• Maak my ’n miljoenêr is nou op DStv Catch Up beskikbaar. Kyk na hoogtepunte van die reeks op YouTube.