ATKV-oorde se ystervroue vir gesogte toekenning benoem
Wat maak ’n ATKV-oord só besonders? Elke besoeker se antwoord verskil, maar daar is tog ’n paar dinge waaroor almal saamstem: die warm swembad wat nét die regte temperatuur is vir ’n tam en moeë liggaam om in te week, die puik braaigeriewe, die hope pret en plesier vir die kinders en die skoon en smaakvolle eenhede.
Natuurlik neem dit ’n hele span om te sorg dat jý die beste ervaring by die oorde ontvang, en daarom moet van die ystervroue wat dit moontlik maak, gevier word.
Vier van die ATKV-oorde se vroue is vanjaar vir die MICE-toekennings 2026 benoem. Die Women in MICE-toekennings vereer vroue wat uitnemende bydraes lewer tot die MICE-bedryf – vergaderings, aansporingsreise, konferensies en uitstallings – deur leierskap, innovasie en professionele uitnemendheid.
Vanjaar is Bronwyn Odendaal, bemarkingsbestuurder by ATKV-Klein-Kariba; Nadine Scholtz, senior konferensiekoördineerder by ATKV-Klein-Kariba; Ronel Maartens, oordbestuurder by ATKV-Klein-Kariba; en Louise van den Berg, konferensiekoördineerder by ATKV-Buffelspoort, vir dié gesogte toekenning benoem.
Ronel sê sy was uit die veld geslaan toe sy die nuus ontvang.
“Dis altyd lekker om erkenning vir jou harde werk te kry. Dis natuurlik nie moontlik as jy nie ’n goeie span het wat jou ondersteun nie.”
Ronel het in 2006 as ontvangsdame by ATKV-Klein-Kariba begin werk. In 2009 is sy as hoof van ontvangs by die oord aangewys en vanjaar is sy tot oordbestuurder bevorder.
“Ek dink ek is juis benoem vir my aansienlike groei in die organisasie.”
Sy meen vroue moet juis die erkenning ontvang wat hulle toekom.
“Ons is soveel meer as net moeders. As individue maak ons ’n verskil in die samelewing. Ons is versorgers, leiers, ondersteuners, entrepreneurs en rolmodelle. Vroue word baiekeer as simpatiek en saggeaard uitgebeeld, maar ons is ook figure wat oor passie en ambisie beskik.”
As oordbestuurder is haar professionele waardes op respek, integriteit en verantwoordbaarheid gegrond.
“Ek streef daarna om elke persoon – of dit nou ’n kollega, gas of diensverskaffer is – met waardigheid en respek te behandel. ’n Onvergeetlike gaste-ervaring is my topprioriteit.”
Louise, konferensiekoördineerder by ATKV-Buffelspoort, sê dit is ook vir haar belangrik om elke gas met respek en professionaliteit te behandel.
“My sukses word nie net gemeet aan hoe goed ’n geleentheid of funksie verloop het nie, maar ook aan die ervaring wat elke gas huis toe neem. Dis vir my belangrik om elke konferensie met toewyding en sorg te koördineer,” vertel sy.
Vir haar is dit ook belangrik dat vroue die nodige erkenning ontvang.
“Vroue maak ’n daaglikse verskil in ons gemeenskappe. Maar erkenning is nie net ’n voorbeeld van harde werk nie. Erkenning moet ook dien as inspirasie aan ander vroue dat jy jou drome met harde werk kan najaag en ’n sukses van jou lewe kan maak.”
Die wenners sal op 5 Augustus 2026 tydens die Women in MICE-toekennings by Monte De Dios in Pretoria aangekondig word, waar die bedryf byeen sal kom om die vroue te vereer wie se invloed ’n tasbare verskil maak.