ATKV-vroue se harde werk word by MICE-toekennings vereer
Augustus is die maand waarin die vrou gevier word as hoeksteen van die samelewing. Sy is ’n versorger, ’n brugbouer, entrepreneur en leier. Vroue speel ’n onmisbare rol in gemeenskappe en behoort al die nodige erkenning te kry wat hulle toekom.
Twee vroue van ATKV-Oorde was onlangs vir hul toewyding en harde werk wat hulle onderskeidelik by ATKV-Buffelspoort en ATKV-Klein-Kariba lewer, vereer.
Ronel Maartens, oordbestuurder by ATKV-Klein-Kariba, en Louise van den Berg, konferensiekoördineerder by ATKV-Buffelspoort, het op 5 Augustus tydens ’n swierige geleentheid MICE-toekennings ontvang.
Die Women in MICE-toekennings vereer vroue wat uitnemende bydraes lewer tot die MICE-bedryf – vergaderings, konferensies en uitstallings – deur leierskap, innovasie en professionele uitnemendheid.
Louise het die toekenning vir junior MICE-koördineerder ontvang, terwyl Ronel die titel van operasionele kampioen van die jaar ontvang het.
Ronel, wat haar loopbaan as ontvangsdame by ATKV-Klein-Kariba begin het en nou aan die stuur van sake by die oord is, sê dit is vir haar ’n geweldige eer om die toekenning te ontvang.
“Van dag een af was dit vir my ’n geweldige voorreg om benoem te wees. Om as wenner aangewys te word is ’n werklike eer. Dit bevestig net weer vir my dat ’n mens se harde werk, deursettingsvermoë en passie wel raakgesien en beloon word.
“Die toekenning motiveer my om aan te hou groei. Ek hoop dat my reis ander kan inspireer om aan te hou glo in hulself en nooit moed op te gee nie.”
Volgens Louise bevestig die toekenning dat sukses nie net gemeet kan word aan wat jy bereik nie.
“Om só ’n toekenning te ontvang vir iets waarvoor jy lief is, is ’n hoogtepunt in my loopbaan. Dit maak elke vroeë oggend, elke lang dag en elke uitdaging die moeite werd.”
Louise meen dat die toekenning vir haar nuwe moed gee om nóg hoër hoogtes te bereik.
“Ek wil meer geleenthede skep wat mense bymekaarbring en onvergeetlike funksies reël. Hierdie toekenning bewys dat wanneer jy jou hart in jou werk uitstort en elke dag jou beste gee, jou moeite wel raakgesien en waardeer word.”