Schalk Cilliers, die BD van ATKV-Sake ontvang toekenning van NWU vir sy bydrae aan die toerismebedryf.
Die Skool vir Toerismebestuur aan die Noordwes-Universiteit en TREES (Toerismenavorsing in Ekonomie, Omgewing en Samelewing) het onlangs erkenning gegee aan die besondere bydrae van Schalk Cilliers, besturende direkteur van ATKV-Sake, tot die toerismebedryf.
Met meer as drie dekades se visioenêre leierskap het Schalk ’n uitstaande bydrae tot Suid-Afrika se toerismebedryf gelewer. Deur sy strategiese visie, innovering en strewe na uitnemendheid het hy die ATKV se toerismebedrywighede in ’n suksesvolle en gerekende portefeulje van vakansiebestemmings omgeskep.
Sy bydrae strek egter veel verder as besigheidsgroei en bestemmingsontwikkeling. Hy het ’n betekenisvolle rol gespeel in die bevordering van volhoubare toerisme, die versterking van samewerking binne die bedryf en die skep van geleenthede vir ander. As ’n passievolle voorstander van menseontwikkeling het hy toekomstige toerismeleiers geïnspireer en bemagtig.
Sy nalatenskap word weerspieël in die bestemmings wat hy ontwikkel het, die mense in wie hy belê het en die onvergeetlike toerisme-ervarings wat hy help skep het.
Baie geluk met hierdie welverdiende toekenning, Schalk. Jou nalatenskap sal voortleef in die besondere herinneringe wat besoekers nog vir jare sal koester.