Die ATKV ondersteun die volgende generasie entrepreneurs

Die top-30-deelnemers van die Maak My ’n Miljoenêr-kompetisie is aangekondig, en die volgende opwindende fase van die kompetisie lê nou voor.

Die kompetisie, ’n inisiatief van Albert van Wyk in samewerking met ATKV-jeugprojekte, die MOS-Inisiatief, Akademia en ATKV-Oorde, bied jong entrepreneurs die geleentheid om hul vaardighede te ontwikkel, praktiese ervaring op te doen en waardevolle mentorskap te ontvang.

Vroeër vanjaar het Albert 96 hoërskole regoor Suid-Afrika besoek en meer as 120 000 leerders toegespreek. Uit 315 inskrywings is ’n top-60 gekies om entrepreneurswerkswinkels by te woon en aan die brandbank-ronde deel te neem. Hierna is die top-30-entrepreneurs aangewys.

Gedurende die Julie-skoolvakansie sal die deelnemers aan uitdagingsrondes deelneem waar hulle by verskillende ondernemings aan werklike sake-uitdagings blootgestel sal word. Hierdie uitdagings sal hul probleemoplossingsvermoë, leierskap, spanwerk en aanpasbaarheid toets.

Vir die eerste keer sal die deelnemers nie net beoordeel word op hul bestaande besighede nie, maar ook op hul vermoë om oplossings vir regte besigheidsprobleme te ontwikkel en uit te voer.

Vir die ATKV vorm projekte soos Maak My ’n Miljoenêr deel van ’n groter verbintenis tot jeugontwikkeling. Deur jongmense bloot te stel aan entrepreneurskap en praktiese leerervarings, help die ATKV om die volgende generasie sakelui, innoveerders en werkverskaffers toe te rus.

Die uitdagingsrondes sal bepaal watter deelnemers hul plek in die top-20 verseker. Die nuwe seisoen van die TV-reeks op VIA (DStv-kanaal 147) word vanaf 24 Augustus op Maandagaande om 19:00 uitgesaai.

Volg hierdie inspirerende jong entrepreneurs se reis, waar hulle hul drome nastreef en meeding om met die titel, asook meer as R50 000 in kontant, verskeie borgpryse en ’n jaarlange mentorskapsprogram saam met Albert van Wyk weg te stap.

Ontmoet die top-30