Skip to the content

Opwindende nuus: ATKV-Hartenbos is oop vir besprekings

Beste ATKV-gas

Dit is met groot opwinding dat die ATKV-bestuur die volgende inligting meedeel. ATKV Hartenbos sal vanaf 18 September oop wees. Skakel gerus die oord by 044 601 7200 om te bespreek of bespreek aanlyn by https://www.atkvoorde.co.za/bespreek/.

Die oordpersoneel verlang na die geure van die braaivleisvure, kinders op hul fietse en roomys om die swembad, en sien daarna uit om julle binnekort weer op die oord te verwelkom. Ons sien daarna uit om elke gas weer met ope arms – of eerder met ʼn elmbooggroet – op die oord te verwelkom, en wil graag die volgende veranderinge onder julle aandag bring, sodat julle weet wat om te verwag wanneer julle ons besoek.

  1. Wanneer ons u op die oord verwelkom, sal ons personeel ten alle tye hul maskers dra en hul hande gereeld ontsmet. Gaste moet asseblief kennis neem dat reëls rakende maskers dra en hande ontsmet met aankoms deurgegee sal word. Dit is van kardinale belang dat hierdie reëls nagekom word.
  2. Elke besoeker (dus alle individue in ʼn gesin/groep) sal gevra word om ʼn COVID-19-vraelys te voltooi en om hul temperatuur te laat neem voordat hulle by ontvangs mag registreer.
  3. ʼn Afstand van minstens 1.5 m word gehandhaaf en sosiale tussenruimtes word aangedui.
  4. Weens gesondheidsrisiko's sal kontantlose transaksies aangemoedig word (krediet-/debietkaart).
  5. Skoonmaakdienste vir die eenhede, buiten voor aankoms en na vertrek, word vir die res van 2020 nie meer ingesluit nie. Gaste wat die diens verlang (skottelgoed en vloere was, badkamers/kombuise skoonmaak), moet tydens bespreking aandui dat hulle die diens benodig, waarvoor ʼn bykomende fooi gehef sal word. Ons sal altyd u braaiplek, kaggel (waar van toepassing) en die vullisdromme buite skoonmaak.
  6. Eenhede sal gereeld tussen aankomste met higiëniese middels berook word, en sal vir gebruik geroteer word, sodat die moontlikheid vir infeksies verminder kan word en om kans te gee vir die beroking om behoorlik gedoen te word. (ʼn Gesondheidsertifikaat sal vir elke eenheid deur die verskaffer uitgereik word.)

Eenhede en kampering:

As afskop, is al die eenhede regs van die Seefront-ontwikkeling (voor teen die see) gedurende die infaseringsperiode beskikbaar vir bespreking. Neem asseblief kennis dat meer eenhede beskikbaar gestel sal word namate die aanvraag verhoog. Besprekings vir kampering word ook beperk tot ʼn besetting van 50% gedurende die infaseringsperiode, om sosiale tussenruimtes te kan handhaaf.

Fasiliteite en aktiwiteite:

Al die fasiliteite sal gesluit wees, behalwe:

  1. Die winkels by Seefront-sentrum
  2. Verhitte swembad

Neem asseblief kennis dat die res van die fasiliteite ongelukkig gesluit sal bly en eers sal heropen wanneer die voorgeskrewe reëls verander. Terwyl ons geleidelik oopmaak, wil ons elke gas daaraan herinner dat elke landburger en persoon op een of ander manier geraak is deur hierdie pandemie. Ons oorde het vir maande lank leeg en stil gestaan en personeel het getrou by die huis gebly, soos deur die regulasies bepaal. 

Dit is ons pleit dat elke gas geduldig sal wees met die infaseringsperiode en die verantwoordelikheid sal opneem om na hul eie en hul familie se gesondheid, die gesondheid van die personeel en die ander gaste sal omsien deur die regulasies, soos deur die bestuur uiteengesit, na te kom. Lees gerus meer oor ATKV-oorde se gesondheids- en veiligheidsprotokolle: https://www.atkvoorde.co.za/covid-19-protokol/

Ons waardeer u geduld en verwelkom ook u mening. Ons sal steeds met die “nuwe normaal” streef om te verseker dat elke gas wat ons oord besoek sy/haar vakansie ten volle geniet en lekker by ATKV Hartenbos ontspan. Ons wag op u aankoms.