Skip to the content
 Dans, hoop en lééf In Afrikaans!

Dans, hoop en lééf In Afrikaans!

Die InAfrikaans Hartenbos-konsertreeks, wat die afgelope Desember in Hartenbos plaasgevind het, was wéér een vir die boeke! Konsertgangers het op 27 en 28 Desember 2019 in hul massas by ATKV-Hartenbos opgedaag en kon saam met die bekoorlike klanke sing, dans, hoop en lééf in Afrikaans!

Dié konsertreeks vind elke jaar in die Hartenbos Amfi-teater plaas en is sowaar sinoniem met 'n ware Hartenbos-ervaring. Dit is geleë in die hartjie van die dorp en baie beskut teen die erge Suid-Ooste winde. Families en vriende het saam kom kuier terwyl gaskunstenaars soos Jo Black, Robbie Wessels, Karen Zoid, Refentse, Francois van Coke, Spoegwolf, Kurt Darren, Elandré, Appel, Leah, Early B, Jan Bloukaas en Danny Smoke die gehoor vermaak het. 

Line-up

“InAfrikaans is uniek, omdat elke jaar anders is in aanbieding wat bydra tot ‘n ongelooflike atmosfeer wat 'n mens nét in Hartenbos vind. Daar is 'n gemoedelikheid tussen die vakansiegangers en almal geniet dit saam in vakansie luim. Daar is gewoonlik 'n goeie balans tussen bekende en onbekende sangers en persoonlikhede wat die platform gegun word om aan 'n nasionale gehoor bekend gestel te word”, vertel Johan Vorster, stigter van Inhoud Huis Media.

Inhoud Huis spesialiseer ondermeer in die produksie van musiek, films asook televisie programme. Johan en sy span is ook dromers wat doen en kan enige kreatiewe idee, ‘n werklikheid maak! Die proses om ‘n konsertreeks soos dié aanmekaar te sit, vereis deeglike beplanning en harde werk regdeur die jaar. “Ek en Jacomien de Villiers skakel direk met die kreatiewe span van Inhoud Huis saam met die musikale direkteur, Matthys Maree, en die konsertregisseur, Carien Loubser. Ons almal sit saam met die ATKV-Oorde, koppe bymekaar en sit dan die bal aan die rol. Ons betroubare span reis elke jaar na ATKV-Hartenbos om te help met al die voorbereiding”, vertel Johan. 

“Die mense stroom in hier by Hartenbos en almal is opgewonde! Ek kan nie wag vir Jo Black en Karen Zoid se optrede nie. Die atmosfeer is iets ongelooflik en almal het ‘n glimlag op die gesig”, vertel Terick Mostert, een van die vele konsertgangers. Francois, een van die ander konsertgangers, meen dat hy al vir sy tweede jaar by InAfrikaans kom kuier het. “Die atmosfeer en vakansiegevoel is een van die hoofredes hoekom ek wéér hier is. Tasché is ook nuut op die verhoog en ek wou nog altyd een van haar optredes bygewoon het”.

Man performing
Man singing in crowd
Stage
Man performing with guitar and singing

Oor die afgelope drie jaar was daar al meer as 70 000 konsertganger wat saam die bekoorlike klank by Hartenbos geniet het. Konsertgangers kan egter uitsien na nóg ‘n groter en beter fees in 2020! “Ons kan nie nou al die aap uit die mou laat nie, maar by 2020 se InAfrikaans gaan beslis iets wees wat nog nooit in Suid-Afrika gesien is nie. Feesgangers se asems gaan weggeslaan word!”, vertel Johan.

Is jou kaartjie al gekoop? Besoek gerus ons webtuiste www.atkvoorde.co.za om op hoogte te bly van al ons nuwe nuus oor InAfrikaans 2020 by Hartenbos!