Skip to the content

COVID-19 – KORONAVIRUS

Korporatiewe kommunikasie aan ATKV-kliënte

Die ATKV hou die gebeure rondom die uitbreking van die koronavirus (COVID-19, deur SARS-CoV-2 veroorsaak), wat deur die Wêreldgesondheidorganisasie (WGO) as ’n wêreldwye gesondheidsnoodtoestand verklaar is, baie fyn dop – veral ten opsigte van die impak op die gasvryheidsindustrie in Suid-Afrika, asook projekte waarby die ATKV-MSW betrokke is.

Die ATKV se bestuur monitor die inligting wat deur die WGO beskikbaar gestel word deurlopend.

COVID-19

  • Die virus word met druppelbesmetting versprei. Die doeltreffendste manier om besmetting te voorkom, is dus om noue persoonlike kontak met mense wat siek en moontlik besmet is, te vermy. Persone met verswakte immuunstelsels is veral vatbaar en moet uiters versigtig optree.
  • Die situasie verander voortdurend. Die departement van gesondheid en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) sal die publiek op die hoogte van die jongste verwikkelinge hou. Dit is elkeen se eie verantwoordelikheid om op die hoogte hiervan te bly, om nie onbevestigde gerugte te versprei nie en om die nodige voorsorgmaatreëls te tref.
  • Indien daar ’n uitbreking sou wees, is dit baie belangrik dat mense nie paniekerig moet raak nie en dat almal hulle volle samewerking moet gee om verdere verspreiding te voorkom.

SIMPTOME

Simptome sluit tipiese verkouesimptome soos hoofpyn, koors, asemhalingsprobleme en hoes in.

MOETS EN MOENIES

  • Indien jy vermoed dat jy besmet is, moenie sonder enige vooraf kennisgewing dokter, kliniek of hospitaal toe gaan nie. Jy kan gesondheidwerkers en ander (insluitende siek mense) onnodig en onbewustelik aan die virus blootstel. Bel eers die dokter, kliniek of hospitaal om hulle te laat weet dat jy siek is, sodat hulle kan voorberei om jou veilig en doeltreffend te ontvang.
  • Kliënte wat vrees dat hulle reeds besmet is, moet met hul plaaslike mediese praktisyn skakel om verdere instruksies te kry.
  • Was jou hande gereeld deeglik met seep en water. Indien jy bekommerd is, oorweeg dit om ’n handontsmettingsmiddel (handreiniger) met ’n minimum alkoholinhoud van 70% aan te skaf vir gebruik wanneer jy die huis verlaat.
  • Bedek jou mond met ’n stuk materiaal of jou elmboog wanneer jy hoes of nies. Probeer om nie oppervlaktes met jou liggaamsvog te besmet nie.
  • Dit word sterk aanbeveel dat jy teen griep (die 2020-entstof sal binnekort beskikbaar wees) en ook teen pneumokkokale infeksies (indien vir jou aangedui) ingeënt word. Dit sal die las op die gesondheidsorgstelsel verlig, jou vermoë om te werk beskerm, en dit kan voorkom dat jy as ’n moontlike COVID-19-geval geïdentifiseer word. Die belangrikste is dat dit siekte in die algemeen – nie net COVID-19 nie – sal help voorkom.

REISVERBOD

  • Geen reisverbod is tans ingestel nie.
  • Die ATKV se deposito-en-kansellasiebeleid bly onveranderd.

INLIGTINGSBRONNE

Die ATKV se bestuur doen ’n beroep op kliënte om op die hoogte van sake te bly. Betroubare inligting is by die volgende bronne beskikbaar:

  • Die departement van gesondheid
  • Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS)
  • Die Wêreldgesondheidorganisasie (WGO)

Die ATKV sal die situasie monitor en inligting op die relevante ATKV-webwerwe publiseer. Gepubliseer: 11/03/2020

ATKV-Oorde

Surreylaan 348
Randburg
Gauteng
Suid-Afrika

E-posadres: 
oordedigitaal@atkv.org.za
Besprekings: 
+27(011) 919 9092