Skip to the content

Profesie gee hoop vir ons toekoms in Christus.

Penguin Random House se Christelike druknaam, LUCA, het vanjaar ’n groot Bybel projek van stapel gestuur in samewerking met die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Die Profesie-Bybel Nuwe Testament is die volledige 2020-vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se Nuwe Testament saam met 50 artikels oor profesie - ’n eerste in Afrikaans!

Elke Nuwe-Testamentiese Bybelboek is vergesel van ’n inleiding wat fokus op die profetiese inhoud en belang van daardie boek.

Die 50 artikels dek profesieë en sluit temas in soos geheimenisse en profesie, die Kerk en profesie, die laaste dae, tekens van die tye, die Antichris, die merk van die dier, die Nuwe Jerusalem en veel meer.

Profesie beslaan ’n groot gedeelte van die Bybel. ’n Bietjie meer as ’n kwart van die Skrif was profeties toe die Heilige Gees dit geïnspireer het.

ʼn Studie van Bybelse profesieë het praktiese gevolge. Dit oriënteer die Bybelleser aangaande die lewe, dood en opstanding, die toekoms anderkant die graf, en waarheen God met sy skepping op pad is. Profesie moedig ʼn heilige lewe aan (1 Joh 3:3). Dit motiveer gelowiges om steeds vir Christus te arbei (Matt 25:21; 2 Kor 5:20). ʼn Beter begrip van profesie bevorder evangelisasie. Dit spoor ook mense aan om gemeentesamekomste by te woon (vgl Heb 10:25). Die boek Openbaring belowe selfs ʼn seën vir elkeen wat dié profesie lees, hoor en bewaar (Op 1:3). Verder waarsku profesieë teen misleiding (Matt 24:4-5, 24; 2 Pet 3:3-4). Moenie profesieë geringskat nie (1 Thess 5:20).

Omdat God waar en getrou is, kan Hy geglo en vertrou word om steeds onvervulde beloftes en profesieë ook te vervul (vgl Joh 13:19). Verder wys profesieë dat God soewerein oor die geskiedenis en tyd is (Jes 46:9-11; Dan 2:20-22).

God is in beheer: Hy bring sy plan in Christus as Verlosser en Koning in die geskiedenis tot vervulling (Hand 4:12; Op 11:15).

Profesie gee hoop vir ons toekoms in Christus.