Skip to the content

ATKV-Buffelspoort se veiligheidsmaatreëls is op standaard

Beste ATKV-gas

Sedert die skiet-tragedie wat op Donderdag, 17 Februarie 2022, by ATKV-Buffelspoort plaasgevind het, was daar verskeie bewerings oor onvoldoende veiligheid en sekuriteit op die oord gemaak. Na afloop van Beeld se besoek aan die oord op 24 Februarie 2022, wil die bestuur graag die volgende inligting rondom die voorval deurgee:

  • Die rowers het toegang tot die eenheid verkry deur ʼn oop skuifdeur in een van die kamers van die villa en daar is drie skote afgevuur. Mnr. Johannes Brits (68) is doodgeskiet en drie selfone is gesteel.
  • Dit is nog onduidelik hoe die aanvallers by die oord ingekom het, maar dit word ondersoek.
  • ATKV-Buffelspoort se veiligheidsmaatreëls is op standaard. Gegewe die voorval, is die oord se hele omheining opnuut nagegaan en ons kan hiermee bevestig dat geen skade aan die omheining verrig is nie, en dat alle sones by ATKV-Buffelspoort se elektrifisering in ʼn goeie, werkende toestand is.
  • Die ATKV doen twee keer per jaar ʼn interne oudit van sekuriteit en veiligheid by al sewe oorde.
  • Die bewerings dat ATKV-Buffelspoort eers sowat ʼn uur na die voorval gereageer het, is onwaar.
  • Die boukontrakteurs by die oord se besittings is deursoek en geen vuurwapens of gesteelde selfone is gevind nie.
  • Die ATKV bied traumabehandeling vir die personeel weens die voorval.
  • Bykomende veiligheidswagte is aangestel om op die oord te patrolleer.
  • Na die aanval het die ATKV  ʼn onafhanklike, eksterne ondersoeker aangestel om die voorval te ondersoek en die polisie by te staan.
  • Bykomende stappe sal geneem word na gelang van die polisie se ondersoek en die veiligheidsmaatreëls by die res van die ATKV-oorde sal ook verskerp word, indien nodig.

 

Neem asseblief kennis dat die oord normaal funksioneer en oop is vir besoekers. Ons pleit dat elke gas geduldig sal wees met die polisie se ondersoek. ATKV-Buffelspoort waardeer u begrip en onvoorwaardelike ondersteuning in hierdie verband.

Buffelspoort-groete