Skip to the content

CORNE LOUW REIK DIE PERFEKTE BRAAIDAG-TREFFER UIT

MEDIAVERKLARING 

19 SEPTEMBER 2022

VIR ONMIDDELLIKE UITREIKING: 

CORNE LOUW REIK DIE PERFEKTE BRAAIDAG-TREFFER UIT

Nadat hy vir ’n rukkie stil was om aan sy nuwe album te werk, is Corne Louw uiteindelik terug met ’n heerlike enkelsnit wat gaan koning kraai by enige gesellige geleentheid. 

NES ONS KAN is ’n popsnit, met ’n country-aanslag, wat hy saam met Muse Studios se Hugo Ludik geskryf het. Dit gaan oor ’n lekker kuier en braai saam met vriende en familie.

Ek wou graag ’n liedjie skryf oor hoe ons Suid-Afrikaners kan kuier en het gedink dat dit die perfekte liedjie vir Braaidag sou wees,” deel dié Kapenaar oor die idee agter die liedjie. “Dit lê my na aan die hart, want dit herinner my aan hoe ons families altyd bymekaar gekom het om te braai, kuier en saam te sing.

’n Musiekvideo, wat die konsep van die snit lekker vasvang, is deur Gerduan Kemp van Gerduan Kemp Photo & Film verfilm op ’n familievriend se grond in Fochville. “Ons het ’n video gemaak van mense wat lekker saam kuier en braai,” verduidelik hy. 

NES ONS KAN is die eerste snit vanaf sy komende album en volg in die voetspore van Die Beste Deel Van My, Date Night en Maak of Breek wat almal goed ontvang is en steeds radiospeeltyd kry. 

Corne woon in Langebaan in die Weskus en het die kuns bemeester om gehore in die palm van sy hand te hou met sy veelsydigheid en hartlike verhoogpersoonlikheid. Hy kom uit ’n familie vol musikante en glo dat musiek deur sy are vloei. Hy en sy pa speel nou nog so af en toe saam kitaar. 

Sedert sy musiekloopbaan in 2004 amptelik vlam gevat het, het hy al by verskeie feeste, waaronder die KKNK en Robertson’s Wacky Wine Festival, plekke soos Route 66 en Ocean Basket en funksies opgetree. 

Wanneer hy nie optree nie, geniet dié pa van twee om ou motors op te bou en versamel hy ook graag kitare. 

Tans is dié veelsydige ster ook besig om sy tweede album te finaliseer, en werk hy ook hard aan voorbereidings vir die laaste optredes van die jaar. 

NES ONS KAN is die perfekte liedjie vir enige geselligheid en sal aanklank vind by oud en jonk. “Hierdie lied nooi jou uit om te kuier. Almal moet dit net geniet en hom voluit en kliphard op Braaidag speel,” sluit hy af. 

Die video word vrygestelop Donderdag, 22 September.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/artistcornelouw/

Instagram: @cornehughlouw

Webwerf: www.cornelouw.co.za

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies

Alani Coetsee

Sel: 072 442 6918

E-pos: alani@starburstmusic.co.za

Webwerf: www.starburstmusic.co.za