Skip to the content

LEER MEER OOR DIE SKRYF VAN ’N DRAAIBOEK TERWYL JY FONDSE INSAMEL VIR JÓÚ SKOOL!

Talle kinders droom daarvan om eendag hul eie draaiboek te skryf vir ’n film, ’n boek te skryf of deel te wees van die skryfspan agter ’n gewilde sepie. Met Stefan Enslin se eksklusiewe FILM-IN-EEN-DAG-WERKSWINKEL kan hierdie drome nou binne die bereik van talle kinders geplaas word en dit terwyl skole fondse kan insamel vir al daardie broodnodige uitgawes wat kop uitsteek gedurende die jaar.

Die bekroonde Enslin is ’n gedrewe en passievolle filmmaker, skrywer, regisseur en draaiboekskrywer wat spog met meer as ’n dekade se ondervinding in die rolprentbedryf.

Hy bied ’n uitsonderlike projek vir skoliere waarmee hy ’n kykie gee agter die skerms van die rolprentbedryf en hul toerus met die basiese vaardighede wat nodig is om uitsonderlike stories op die grootskerm te vertel.

Binne ’n dag (9:00 tot 16:30), sal aspirant-skrywers en -rolprentmakers blootgestel word aan die grondbeginsels van kreatiewe skryfwerk, met spesifieke klem op die filmbedryf.

Die sessie bestaan uit ’n inleiding tot die filmbedryf, die rol van ’n skrywer, fokus op die verskil tussen skryf vir film en ander media asook die elemente van ’n goeie verhaal.

Plot, karakter, omgewing en tema sal ook bespreek word, asook die opbou van tonele, karakterontwikkeling, dialoog en vele meer.

Buiten vir die kreatiewe aspekte, sal daar ook gefokus word op die besigheid van draaiboekskryf, insluitend die aspekte van agente, aanbiedings, die verkoop van ’n draaiboek, asook regsaspekte en kopiereg

Geleentheid sal aan die einde van die werkswinkel gegun word vir vrae om te verseker dat elkeen soveel waarde as moontlik uit die dag put ten einde hul loopbaan as draaiboekskrywer op ’n positiewe en ingeligte noot af te skop.

Skole kan Enslin nooi om die werkswinkel aan te bied en dan ook een van sy films na afloop van die dag op ’n grootskerm vertoon. Vir meer inligting en hoe om hierdie nodige reëlings, kostes en logistieke te bespreek, kontak gerus info@starburstmusic.co.za

Oor die jare, het Stefan homself stewig in die vermaakbedryf gevestig.

Sy eerste roman, Verskietende Ster, is in 2013 gepubliseer, met die rolprentweergawe wat in 2015 gevolg het. Dit het die Gehoorgunsteling-toekenning by die gesogte Silwerskermfees gewen. Hy het sy tweede roman, Tweede Kanse, in 2018 gepubliseer.

Verder spog hy ook met ’n indrukwekkende lys flieks agter sy naam, insluitend Strikdas, Nul Is Nie Niks Nie, Liewe Kersfeesvader en Klein Karoo, en was hy een van die skrywers op Getroud Met Rugby. Op Soek na Reënboë, ’n kykNET-storiefilm waarvan hy draaiboekskrywer en regisseur was, het in 2022 verskyn. Hy het ook as lynvervaardiger gewerk op ’n Emmy-bekroonde dokumentêr vir CNN. Vanjaar is hy ook vir twee Suid-Afrikaanse Film- en Televisie-toekennings (SAFTAS) genomineer.

Van sy toekomstige projekte sluit in ’n dokumentêr oor die wêreldbekende weltergewigbokskampioen Chris van Heerden, ’n film oor ’n vark wat skilder, ’n dokumentêr oor Jacques Freitag en ’n nuwe roman saam met die legendariese skrywer Maretha Maartens.

Stefan beskik oor ’n magdom kennis en ervaring wat hy graag met die volgende generasie draaiboekskrywers en filmmakers wil deel om hulle te help om sukses te bereik.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/stefanenslinofficial/

Instagram: @stefanenslin

Twitter: @StefanEnslin

Webwerf: www.stefanenslin.com

 

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Danelle Liebenberg El Far

Sel: 071 534 7796

E-pos: danelle@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za